‘n Paartjie van Bloemfontein, Michelle van Solms en Johannes Esterhuizen, se trouplanne is byna in die wiele gery deur ‘n ongeluk waarin Johannes sy been verloor het, maar danksy hul liefde vir mekaar en hulp Mej Bloemfontein finaliste, staan die twee volgende Saterdag voor die kansel.
Hul besonderse verhaal het by die werk begin. Hulle het lank saam by dieselfde plek gewerk, maar was net so vaagweg bewus van mekaar se bestaan. Hulle was albei bitter ongelukkig in hul vorige verhoudings.
Michelle sê hul vriendskap was te danke aan die ysies wat Johannes uit sy kantoor verkoop het. “Nadat ons ontmoet het, het ons dadelik begin gesels. Binne ‘n oogwink was ons soos kettie en klip!”
Na hul eerste soen, het hulle albei geweet hulle is vir mekaar bedoel. Hulle het alles van mekaar geweet en kon enige iets met mekaar deel. Hulle het dadelik van trou begin praat.
Maar toe hulle sowat vyf maande saam was, was daar ‘n ongeluk by die werk. Weens komplikasies het Johannes sy been verloor.
Dit het hulle egter nie van stryk gebring nie. Deur al die moeilike tye en die trane, het hulle liefde net sterker gegroei. Hul troue was ongelukkig in gevaar, want die mediese koste van Johannes se operasie het hulle byna bankrot gelaat.
Hulle het net begin vrede maak dat hulle hul troue sal moet uitstel, toe die verskeie vroue tot hul redding kom. Die mense het saamgestaan om vir die twee ‘n troue te beplan. Hulle het selfs vir die rok, hare en grimmering betaal.
Michelle glo dat elke liefdesverhaal spesiaal is. Die aanhaling “Every love story is beautiful, but ours is my favourite” is verseker haar gunstelling.
Party mense wag jare vir die regte persoon of om verlief en lief te word vir iemand. In Michelle en Johannes se geval was dit net mooi die teenoorgestelde.
jeretha@mahareng.co.za