Vriende beklink SA titels

0
211
Wade Blaauw FOTO: FRIKKIE STROH

Twee van die bekendste name in die Vrystaat-veldrengemeenskap, Wade Blaauw van Bloemfontein en Charan Moore van Ladybrand, het oor die afgelope naweek in Mid-Illovo in KwaZulu-Natal die Suid-Afrikaanse veldren-motorfietskampioenskapstitels ingepalm ná twee dae van uitputtende wedrenne.

Moore het die Moto1-titel gewen, terwyl Blaauw op sy beurt die senior titel verower het om as die algehele kampioen vir 2020 gekroon te word.

Blaauw het aan Bloemfontein Courant gesê om ‘n nasionale titel op dieselfde dag as sy goeie vriend, Moore, te wen, was iets uitsonderliks.

“Ek werk al ‘n rukkie daaraan en dit het alles dié naweek reggekom. Die pyn van die ry sal ophou en ek is bly dat alles vir ons in plek geval het.

Charan Moore FOTO: TROMPIE VAN DER BERG

“Ek en Charan is goeie vriende en dit was ‘n fantastiese gevoel om op dieselfde dag ‘n kampioenskap te kon wen. Ons hoop dat ons dit eendag kan herhaal. Dit was regtig wonderlik en ek is baie gelukkig oor dié prestasie.”

Moore het dieselfde sentiment met sy goeie vriend gedeel, met ‘n nasionale titel.

“Ek was my hele lewe lank betrokke by die sport en kon die toppunt bereik en om nommer een te wees in die SA kampioenskap beteken regtig baie.

“Ook om dit saam met Wade, nog ‘n Vrystater, te doen. Ek het grootgeword met veldrenne en ken Wade baie jare. Hy was op sy beste toe ek begin het om aan resiesry deel te neem.

“Dit is iets ekstra spesiaal om in dieselfde jaar ‘n kampioenskap te kon wen.”

Terwyl Blaauw erken dat die lyf nog ‘n bietjie seer is, kan hy Saterdag en Sondag moontlik weer in aksie wees tydens die Nasionale Suid-Afrikaanse Motocross-kampioenskappe by Tempe in Bloemfontein. Moore het bevestig dat hy die naweek weer op sy bromponie sal wees saam met van die grootste name van oor die land. – MORGAN PIEK