Vrede!

0
631

In ’n wêreld waar die woord vrede ’n luuksheid geword het, is daar die een geleentheid in die jaar wanneer ek en jy kan stilstaan en besef dat daar wel soiets soos vrede is. Daar in Betlehem het die moontlikheid van vrede deel van ons lewe geword. Op daardie oomblik het Jesus die vrede wat alle verstand te bowe gaan met jou en my kom deel. Hierdie vrede begin by jou en my en ons verhouding met die Here. Dit is ’n bewustelike besluit, ’n geduld met mekaar en mense se verskille. Dit is oomblikke van wysheid waarin ek en jy besluit om nie te reageer nie, maar vrede te soek. Dit is die keuse wat ons het om mekaar te vergewe en ander te respekteer, mense se lewe te respekteer as iets spesiaals voor God. Dit is om mense vandag en elke dag van die nuwe jaar te groet met ’n seënwens. Kersfees is ’n geleentheid vir vrede. Vra Hom vir vrede en volg sy Gees en dan sal jy sal ervaar dat Hy al hoe meer in jou lewe leef!

Ds. Stephan van Heerden

* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale terapeut.