Voormalige veldwedloopatleet skitter steeds

0
5233
Sandra Mansvelder het Saterdag tydens die Extreme Urban Trail Run van Makro in Bloemfontein die afdeling vir vroue in die 21km-wedloop loshande gewen. Sy het meer as 15 minute voor die tweede vrou geëindig. FOTO: RAYMOND BESTER

Die voormalige wêreldkampioenskap-veldwedloopatleet en internasionale senior atleet in die 800m, Sandra Smith, het Saterdag tydens die Extreme Urban Trail Run by Makro in Bloemfontein gewys dat sy niks van haar veggees en talent verloor het nie.

Die 42-jarige Smith, wat in haar ernstige atletiekdae as Sandra Lotter bekend was, het Saterdag in die 10km-wedloop die manne laat swoeg toe sy algeheel derde geëindig het in ‘n haastige 45:17.

Slegs twee mans, Luke Parker (eerste, 44:16) en die tweede atleet, Pieter Zietsman (44:19), kon hond haar-af maak teen Smith. Sy het in die proses 103 atlete (mans en vroue), wat die wedloop voltooi het, gewen. Die derde plek onder die manne is deur Wikkie van der Merwe in 46:09 ingeneem. Hy moes tevrede wees met bykans ‘n minuut agter Smith.

Smith was in die 1990’s twee keer vir Suid-Afrika in aksie op die wêreld-veldwedloopkampioenskap en het die land boonop op internasionale vlak in die heelwat korter baannommer, die 800m, verteenwoordig. Sy beskik oor ‘n loopbaanbeste in die 800m van 2:04,31 (1995).

Die tweede vrou in die 10km, Elmarie Brand, het haar goed van haar taak gekwyt deur algeheel sesde te eindig in ‘n mooi tyd van 48:13. Sy is gevolg deur René du Plessis wat in 49:52 oor die eindstreep gedraf het.

In die 21km-wedloop het Johannes Motsau ‘n klinkende oorwinning behaal in ‘n goeie 1:30:16. Hy het sodoende die onderskeidelik tweede en derde atlete, Adrian Nel (1:32:46) en Gerhard Beukes (1:36:31), uitgestof.

Sandra Mansvelder het die afdeling vir vroue (21km) loshande haar eie gemaak en 1:45:36 op die uitslagkaart ingevul. Sy het meer as 15 minute voor die tweede vrou, Juandi van Sandwyk (2:02:27), die eindstreep bereik, terwyl Karen Havenga (2:03:30) met die derde plek tevrede moes wees.

In die kortste wedloop (5km) van die dag – waar beginners gewoonlik hul eerste veldnommer-treë toets – het Nelio de Sa die septer in die wedloop vir mans geswaai in 27:27. Hy is 20 sekondes later gevolg deur Elwin Buchel (27:47). Roan van Rensburg (27:50) was derde.

Die 5km vir vroue is gewen deur Manhene Landman (31:10). Inge Venter (32:42) en Ester de Beer (33:43) was onderskeidelik tweede en derde. – RUFUS BOTHA