Voormalige studente Cobus Muller en Charl Blom het verlede week sonder verduideliking hulle eise teen die UV vir kontraktuele skadevergoeding ten bedrae van R1 miljoen elk teruggetrek.
Dit volg nadat 'n eisbrief op 5 Maart 2015 aan prof Jonathan Jansen, Visekanselier en Rektor van die UV, geadresseer is waarin Muller en Blom elk R1 miljoen skadevergoeding van die UV geëis het. Die eis is verwerp. Daarna het Muller en Blom 'n dagvaarding laat uitreik waarin hulle elk R1 miljoen vir beweerde kontraktuele skade wat gely is, geëis het.
Muller en Blom het die volle verspilde koste weens die eise wat onttrek is, aangebied. Die voormalige studente beplan om met die oorblywende eise voort te gaan. Hierdie eise sal eweneens deur die UV teengestaan word.
Die universiteit se bestuur is nie van plan om in die media op die onttrekking kommentaar te lewer nie. Die sinlose pogings van Muller en Blom om aanspraak te maak op iets wat hulle nie toekom nie, spreek vanself.
-Supplied