Voormalige Fauna skoolhoof steeds werkloos

0
822

Duane Petrus – Pogings is steeds aan die gang om ‘n geskorste Bloemfonteinse skoolhoof terug in sy pos te kry nadat ‘n beslissing in Mei gemaak is dat hy weer aangestel moet word.

Laerskool Fauna se Corrie van der Walt is verlede jaar afgedank nadat hy aan 30 aanklagte van wanbestuur deur die departement skuldig bevind is.

Die Raad vir Arbeidsverhoudinge in Onderwys (Ravo) het Meimaand beslis dat Van der Walt sy pos moet hervat.

Die departement het sedert Ravo se beslissing verskeie pogings aangewend om Van der Walt nie terug op hul betaalstaat te sit nie.

Van der Walt se regsverteenwoordiger, Marius van Rensburg, sê die departement het tot einde Oktober om rekords aan hom te stuur, oor hoekom hulle hul teen dié beslissing verset.

Hy sê hulle beplan om die arbeidshof te nader oor die departement se weiering om die skoolhoof weer in diens te neem.