Voorkom só diefstal uit motors deur seinsteuring

0
1166
AfriForum se Distrikskoördineerder in Bloemfontein, Christo Groenewald. FOTO: Verskaf

Parkering by winkelsentrums hou baie risiko’s in, al is daar motorwagte of sekuriteit. Die mees algemene bedreiging is seinsteuring (car-jamming) van motors se afstandbeheerders of -sleutels. AfriForum se Distrikskoördineerder in Bloemfontein, Christo Groenewald, bied aan die gemeenskap hierdie veiligheidswenke om op jou volgende besoek na ’n winkelsentrum te oorweeg.

Maak seker voordat jy jou voertuig verlaat. “Kwaaddoeners reken op die feit dat motoriste óf vir tyd gedruk is óf oortuig is dat hul motors se afstandbeheerders voldoende is om hul voertuie te beveilig,” sê Groenewald. Hy stel voor dat die volgende keer as jy in ’n openbare ruimte parkeer, jy seker maak dat jy ’n paar ekstra sekondes neem om te bevestig dat jou motor wel gesluit is voordat jy wegstap. “Sodra die motor gesluit is, is daar niks wat ’n ander afstandbeheerder kan doen om dit te verander nie. Toets ook jou motorsleutel se battery, dit kan mettertyd pap raak. Vervang dit sodra jy vasstel jou motor sukkel om te sluit,” sê Groenewald.

Moenie jouself ’n teiken maak nie. “In baie gevalle teiken kwaaddoeners voertuie vir die goedere in die motor, eerder as vir die motor self,” sê Groenewald. Om voorsiening te maak vir moontlike agterlosigheid, sê hy dat dit dus belangrik is om te verseker dat jy jou waardevolle besittings buite sig hou. “Deur die aantrekkingskrag van jou motor as ‘n teiken te verminder, sal jy die waarskynlikheid om ‘n slagoffer van diefstal te word moontlik vermy.”

Installeer ’n motoropsporingstelsel. “Deur ’n motoropsporingstelsel in jou voertuig te installeer, verhoog jy nie net die waarskynlikheid om dit terug te vind indien dit gesteel word nie, maar jy verbeter ook die kans op ‘n suksesvolle eis,” sê Groenewald. Hy voeg by dat deur jou risikostatus te verminder, jy jouself in ’n sterker posisie stel om vir skadevergoeding te eis, aangesien versekeraars beter geplaas is om jou voertuig se bewegings op te spoor en bewys van jou eis te vestig.

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za