Voorgeskrewe bates en jou aftrede

0
296

Dit maak deesdae nie saak in watter geselskap jy verkeer nie. Dit neem nie lank voordat die gesprek in die rigting van aftreefondse en voorgeskrewe bates stuur nie.

Die siening onder lede van aftreefondse (insluitend uittree-annuïteite) op die oomblik is dat die regering hul aftreegeld wil gebruik om sukkelende staatsbeheerde ondernemings (SOEs) uit hul finansiële verknorsing te red.

Is dié mense reg? Ek weet nie; daar moet nog heelwat gesprekke plaasvind voordat mens ‘n duidelike prentjie sal kan vorm van wat die ANC en die regering se presiese planne met voorgeskrewe bates is. Voorgeskrewe bates is egter nie iets nuuts nie, dit kom al van 1956 af en is eers in 1989 geskrap.

Vir lang tydperkte tydens bogenoemde jare was pensioenfondse verplig om ‘n deel van hul bates (geld) in staatseffekte te belê. Dit was ‘n maklike en goedkoop manier vir die regering om geld by pensioenfondse te leen.

Onder Regulasie 28 van die Pensioenfonds word aftreefondse steeds voorgeskryf hoe hulle gelde mag belê. Regulasie 28 bepaal in sy huidige vorm dat aftreefondse nie meer as 75% van hul bates in aandele mag belê nie, nie meer as 25% in genoteerde eiendomme nie, en nie meer as 30% in die buiteland nie (40% indien 10% elders in Afrika belê word).

Daar is dus reeds bestaande wetgewing rondom voorgeskrewe bates. Indien die regering dus dié roete wil loop, is dit nie nodig vir nuwe wetgewing nie. Daar kan slegs ‘n aanpassing aan Regulasie 28 gemaak word.

Volgens die ANC sal die geld wat hy uit voorgeskrewe bates kan bekom, nie gebruik word as ‘n reddingsboei vir sukkelende staatsbeheerde-ondernemings nie, maar eerder vir maatskaplike ontwikkeling en projekte.

Dit is moontlik vir die konsep van “voorgeskrewe bates” om voordele vir lede van aftreefondse in te hou. Hoe dit geïmplementeer en bestuur gaan word, is egter van kardinale belang. Dan natuurlik, waar gaan jou geld werklik opeindig?

Die feit bly egter staan dat indien die regering aantreklike beleggingsgeleenthede met aantreklike opbrengsprospekte skep, batebestuurders in elk geval daarin sal belê; waarom hulle verplig?

In dié stadium is betroubare inligting rondom voorgeskrewe bates nog baie beperk. Moet dus nie jou uittree-annuïteit se premies gaan staak, en bedank om jou pensioengeld in die hande te kan kry nie. Kom ons wees rustig vir eers en kyk die kat uit die boom.

Indien jou senuwees regtig begin knaag, gaan gesels met jou finansiële beplanner.

Horace Terry