Von Berg die naweek terug in Bloem

0
206
Shaun von Berg (regs) in aksie vir die VKB Knights teen die Titans. FOTO: SYDNEY SESHIBEDI

Die VKB Knights-draaibalbouler, Shaun von Berg, keer die naweek terug Bloemfontein toe om weer by die span in te val. Von Berg was tot nou toe in sy tuisdorp, Pretoria, waar hy sedert die aanvang van die nasionale inperking kamp opgeslaan het.

Die afgelope tyd het Von Berg by KSA se Hoëprestasiesentrum aan die Universiteit van Pretoria geoefen.

Die 33-jarige speler, wat verlede seisoen een van die uitblinkers vir die Knights was, het aan Bloemfontein Courant gesê hy sien uit daarna om weer by die span in te skakel.

“Ek sit nog steeds by die huis en vertrek eers Sondag na Bloemfontein. Ek gaan dus Sondag by die Knights aansluit en dan begin ons Maandag in kleingroepe oefen.

“Ek is nie 100% seker hoe dit gaan werk nie, maar ek het op my eie geoefen deur ‘n bietjie te hardloop, ens., om so fiks moontlik te probeer bly.

“Op ‘n latere ouderdom word dit moeiliker om fiks te bly, so ook om gemotiveerd te bly. Ek en Pite (van Biljon) maak nogal baie grappe daaroor.

“Ek is bly om weer saam met die Knights te kan begin en ‘n mate van normaliteit in die hele situasie te vind. Drie maande was ‘n baie lang tyd.”

Saam met Gerald Coetzee, Raynard van Tonder en Pite van Biljon is Von Berg een van die vier Knights-spelers wat vir die nasionale oefenkamp benoem is. – MORGAN PIEK