Vollies verlaat Grey-gronde ná 60 jaar

0
1366

OWEN KOCK

Hy gaan die leerders die meeste mis na sy uittrede, want hulle was wat hy noem, “sy asem”. Só beskryf Johan Volsteedt sy laaste paar dae as skoolhoof van die wêreld bekende Grey-kollege, toe hy gepols is oor wat hy die meeste gaan mis wanneer hy die tuig neerlê aan die einde van die 2012-skooljaar. Vir net vyf jaar van sy ganse lewe, het Vollies, soos hy bekend is onder die seuns en almal wat hom ken, nie op die Grey-kollege se perseel gewoon nie. Selfs sy drie kinders is op die perseel gebore. “Hier is ek gebore en toe ek destyds in standard een (nou graad drie) was, is my pa aangestel as skoolhoof op Viljoenskroon, na vier jaar daar terug gekom en dan het ek ’n jaar diensplig in die Suid-Afrikaanse Vloot gedoen,” vertel Volsteedt aan Courant, waar hy agter sy groot lessenaar in sy kantoor inskuif. Hy bly steeds ’n besige man, en van briek aandraai is daar geen sprake nie. Hy gaan nog noue bande met sy geliefde Grey hê. Hulle is juis besig om vir hom ’n kantoor in te rig. En soos geraai kon word, gaan hy betrokke wees met krieket by die skool.

Volsteedt is ’n krieket man by uitstek- sommige na hom as Meneer Grey, terwyl ander hom Meneer Krieket noem. “Grey en krieket is baie groter as net een ou. Dit was vir my ’n ongelooflike voorreg om krieket te kon afrig en met mense soos Hansie Cronje, Kepler Wessels, Nicky Boje te kon werk en al die ander met wie ek as afrigter kon werk. Selfs die wat nie met krieket gemoeid was nie, die gees wat hier heers, dit is waarvoor Grey bekend is. Die enigste Meneer Grey wat hier nog ooit was, was Sir George Grey,” het Vollies gou laat verstaan. Die skool self is nou 160 jaar oud en die 60 jaar dat Vollies die perseel sy tuiste genoem het, sê hy, is maar ’n klein deeltjie waarvoor hy nooit genoeg dankie sal kan sê nie. “My verbintenis met Grey is nog lank nie verby nie. My plekkie is lankal bespreek daar teen die Muur van Herinnering waar my as sal ingaan.

Ek is baie tevrede. Baie mense vra hoekom ek nooit weggegaan het nie, ek wou nie. Ek is in die proses om te trek en vind dit nou baie swaar. Dis vir my verskriklik swaar, want my hart is maar hier. My vrou is net so hartseer, want sy het ook net so onder die 40 jaar hier op die perseel gewoon,” praat Vollies gou klaar, want sy volgende afspraak wag reeds buite sy kantoor vir hom.