‘Volgende Lewe’, ‘n eerste vir kunstenaar

0
719
Leenova Pitout

Leevona Pitout het ‘n passie vir musiek en streef sedert die ouderdom van tien jaar daarna om haar groot droom, om as bekende kunstenaar naam te maak, te bewaarheid.
Die jong sangeres, beoog om haar heel eerste enkelsnit op 25 Januarie 2021 vry te stel.

Pitout vertel haar gunsteling-musiekgenre is country. Sy wil ook ‘n country-gevoel skep deur haar musiek.

“Ek dink musiek speel ‘n baie belangrike rol in ons almal se alledaagse lewe. Ek sê nog altyd dat musiek met jou kan praat – wanneer daar nie meer woorde is nie, wanneer jy sonder hoop is en dit voel asof alles duister is, wanneer dit voel asof niemand jou verstaan nie. Musiek gee hoop. Daar is altyd ‘n liedjie waarmee mens kan vereenselwig en wat jou weer beter laat voel.”

Sy sê, “My debuut-enkelsnit, ‘Volgende Lewe’, is geskryf deur ‘n vriendin, Kelly-Leigh Rust. Dit is deur Petrus van Wyk getoonset en deur Jaco Bezuidenhout van JB Productions vervaardig. Die musiekvideo is deur Gerduan Kemp van Kreativ Productions vervaardig.”

Pitout voeg by dat tyd en liefde die tema van hierdie liedjie is. “Dit handel oor die liefde tussen twee mense vir mekaar, hoe ‘n leeftyd saam met daardie persoon te min sal wees. So min, dat jy in jou ‘volgende lewe’ weer na hierdie persoon sal kom soek.”

“Ek het ‘n wonderlike span agter my gehad met die vervaardiging en vrystelling van hierdie lied, en dis vir my só spesiaal,” sê sy.

“My enkelsnit sal vanaf Maandag 25 Januarie 2021 beskikbaar wees op digitale platforms soos YouTube, Spotify, JOOX, Itunes en Apple Music – enige digitale platform waaraan jy kan dink.”

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za