E Copy

Date:

VN-landbouspesialis kry eredoktorsgraad

Dirk Kok
Die sentrum vir volhoure landbou, landelike ontwikkeling en voorligting aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), wat vanjaar sy 20ste bestaansjaar vier, het verlede week sy eerste eredoktorsgraad aan Magdalena Blum, ‘n landbouvoorligtingspesialis van die VN se voedsel-en-landbou-organisasie (FAO), toegeken.
Blum, van die FAO se kantoor in Rome, het haar eredoktorsgraad op verlede week se wintergradeplegtigheid op die Kovsie-kampus ontvang vir die opheffingswerk wat sy oor vastelande heen doen. Sy het vroeër 13 jaar lank in verskeie Afrika-lande gewoon as landbouvoorligter en ontwikkelingswerker.
Die direkteur van die sentrum, Izak Groenewald, sê Blum verdien hierdie eredoktorsgraad dubbel en dwars vir die waardevolle werk wat sy met ywer en passie doen.
"Sy werk op die agtergrond en het nog nooit erkenning gekry vir die enorme werk wat sy doen nie."
Die sentrum aan die UV en Blum het oor die jare sterk bande opgehou. Sy gee uit haar kantoor in Rome oor Skype lesings vir die sentrum se meestergraadstudente. Meer as 90% van hierdie studente is landbouvoorligters van Suid-Afrika en ander Afrika-lande.
Groenewald en kollegas het haar op landbouvoorligtingskongresse in Chili, Namibië, Duitsland, Wenen en Pretoria leer ken.
Groenewald sê: "Sy is ‘n merkwaardige mens met ‘n ongelooflike passie vir landbouvoorligting en ontwikkeling."
Blum sê die erkenning wat sy van die UV-sentrum af gekry het, is vir haar ‘n groot eer en hoogtepunt.
"Ek is trots om dit van ‘n Afrika-universiteit te ontvang, nadat ek 13 jaar lank in Afrika gewoon het. Die sirkel is in ‘n sin voltooi."
Met die wêreldbevolking wat teen 2050 tot meer as 9 miljard gaan groei en die grootste groei in Afrika van ‘n miljard tot 4 miljard, was haar boodskap aan die 43 landbouvoorligters wat hul meestersgrade aan die sentrum verwerf het ‘n aanhaling van die skrywer Antoine de Saint-Exupéry: "In die lewe is daar nie oplossings nie, slegs magte in aksie. Julle moet dit skep en die oplossings volg."
Sy sê groot veranderings in regerings, die landbou en nywerheid is nodig om die mensdom te bly voed.
"Julle is die mense wat hierdie veranderings gaan moet bewerkstellig," het sy aan die landbouvoorligters gesê.

dirk@centralmediagroup.co.za

Share post:

Popular

More like this
Related

R6 million allocated for Bloemfontein Zoo revamp

Mangaung Metro targets full reopening by 2028, plans major...

Universitas Hospital unveils first of its kind surgical robotics system

Universitas Academic Hospital has made history with the official...

Free State Mortuary backlog: 42 autopsies still pending amid urgent efforts

The Free State Department of Health has confirmed that...

Bloem schools bold about bullying

Bullying is more than just verbal or physical abuse...