VL verwelkom voertuie om misdaad te bekamp

0
348
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het by ’n geleentheid by die Glen-landboukollege in Bloemfontein bekend gemaak dat 48 voertuie beskikbaar gestel word om landelike veiligheid op te skerp. Van links is Tommie Esterhuyse, vise-president van Vrystaat Landbou (VL), Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer, lt. genl. Moeketsi Sempe, provinsiale kommissaris van die SAPD, en Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidkomitee. FOTO: VRYSTAAT LANDBOU

Vrystaat Landbou (VL) is verheug oor 48 ekstra voertuie wat vir landelike veiligheidkoördineerders by polisiekantore in die Vrystaat gegee word.

Só het Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, gesê nadat dié voertuie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beskikbaar gestel is om te help om misdaad te bekamp.

Esterhuyse, wat die gebaar verwelkom het, sê dit “ ’n historiese dag is vir landelike beveiliging”. Die voertuie sal slegs deur die polisie gebruik word om misdaad in landelike gebiede en landbougemeenskappe te bekamp.

Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer, het op 19 Julie 2019 by ’n geleentheid by die Glen-landboukollege in Bloemfontein gesê die voertuie gaan gebruik word om ernstige geweldsmisdade en veediefstal te bekamp. Volgens Esterhuyse is dit ’n gegewe dat meer mannekrag en voertuie steeds nodig is.

Mashinini het gesê polisiebeamptes moet die voertuie opgepas, “asof dit hul eie is. Hy sê landbouers moet hul vee merk en gereeld tel. Hy sê die Vrystaat moet ’n provinsie word waar landbougemeenskappe in vrede hul ondernemings kan bedryf.

Lt.-genl. Moeketsi Sempe, provinsiale kommissaris van die SAPD, het bevestig dat die voertuie as deel van fase een in die Landelike-beveiligingstrategie (LBS) uitgereik is om misdade in landelike gebiede, in samewerking met landbougemeenskappe, te bekamp.

Hy het ook gemeld dat veiliheidkoördineerders fleksietyd gaan werk na aanleiding van hul misdaad-patroonanalise.

Sempe het VL bedank vir die goeie samewerking tussen die polisie en die organisasie. Hy het ook versoek dat landbouers die polisie se dienslewering moet evalueer, en waar probleme ontstaan moet die lyn van bevel of protokol oor klagtes gevolg word. “Landbouers moet nie reg in eie hande neem nie en alle wette nakom,” het hy gesê.

Volgens Esterhuyse het genl. Khehla Sitole, nasionale kommissaris van die SAPD, tydens gesprekvoering met Agri SA gemeld dat hy georganiseerde landbou as ’n vennoot in die LBS sien.

Hy het op sy beurt klem gelê op die vertrouensverhouding en dat behalwe sameweking en verhoudinge daar gewerk moet word aan wedersydse vertroue.

Die voertuie moet beskou word as ’n instrument om goeie verhoudinge te bou tussen plaaswerkers, landbouers en die polisie.

info@bloemfonteincourant.co.za