VL steun groter polisiëring op voetsoolvlak

0
650
PHOTO: Arrive Alive

Vrystaat Landbou (VL) gaan steun bied vir groter polisiëring op voetsoolvlak omdat die Suid Afrikaanse Polisie Dienste (SAPD) se bevelstruktuur volgens dié organisasie te groot is en daar te min mannekrag op voetsoolvlak is om die werk te verrig.

Dit kom na die voorsitter van die portefeuljekomitee vir polisie, Tina Joemat-Pettersson, asook die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sithole, se uitsprake in die media.

Die president van VL, Francois Wilken, het gesê dit is nodig dat die SAPD die probleem dringend aanspreek. Volgens hom dra die oorbodige struktuur by tot die gebrek aan hulpbronne en finansiering. Gebrekkige leierskap op voetsoolvlak lei ook tot die onvermoë van die polisie om veral in die landelike gebiede misdaad hok te slaan.

Wilken meen dit is noodsaaklik dat die polisie in veral landelike gebiede sigbaar moet wees wat betref die voorkoming van misdaad, die voldoende ondersoek van misdaad, asook die daar stel van doeltreffende inligtingsnetwerke om alle burgers en gemeenskappe veiliger te hou en teen misdadige aanslae te beskerm.

Luidens ‘n opname wat VL in November 2020 onder lede gedoen het en wat deur 20% van sy lede voltooi is, kom die polisie nie sy regsverpligting na nie. Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, sê die onvermoë van die polisie is tydens die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng ontbloot. “Grootskaalse geweld en plundering het plaasgevind en honderde mense het gesterf omdat die polisie die situasie nie doeltreffend kon beheer nie,” sê Esterhuyse.

VL versoek Pres. Cyril Ramaphosa, die Minister van Polisie, Bheki Cele, asook genl. Sithole om hul agendas op die agtergrond te skuif en die belange en veiligheid van alle landsburgers voor op te stel ten einde die polisie met die regte mannekrag, toerusting, geld en leierskap te bemagtig.

Saamgestel deur Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za