VL eis optrede teen plaasaanvalle

0
175
President van Vrystaat Landbou (VL), Francois Wilken

Die president van Vrystaat Landbou (VL), Francois Wilken, het in ‘n memorandum aan senior Vrystaatse staatsamptenare geëis dat dringende stappe deur die regering gedoen word om die vlaag plaasaanvalle op boere en plaaswerkers in die provinsie te stop.

Die memorandum is aan die LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer, Sam Mashinini, en die LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, William Bulwane, oorhandig.
Wilken het egter bygevoeg dat alle protesoptrede teen plaasaanvalle binne die bepalings van die wet moet geskied.

“Daar bestaan kommer in die Senekal-gemeenskap dat onverantwoordelike optrede van buitepartye, wat probeer om die situasie uit te buit vir ideologiese en politiese punte, wesenlike skade kan doen,” sê hy.

Wilken sê hulle versoek dat die publiek sowel as lede van Vrystaat Landbou, wat die verrigtinge in Senekal wil bywoon, die impak en moontlike negatiewe gevolge van hul optrede op algemene verhoudinge in ag sal neem asook die effek wat dit op die landbou en algehele gemeenskap van Senekal sal hê wanneer dit kom by voorgestelde aksies. Die veiligheid en welstand van die Senekal-gemeenskap moet op die voorgrond geplaas word.

VL veroordeel gewelddadige kriminaliteit in die algemeen, maar spesifiek geweld teen boere en plaaswerkers. In die memorandum eis VL die volgende: Deeglike ondersoek na die korrupte polisie-amptenare geïmpliseer in veediefstalsindikate, soos aangedui in ‘n verslag met inkriminerende bewyse, wat reeds deur VL se Bethlehem Landelike Veiligheidskoördineerder aan die Valke oorhandig is.

VL is oortuig dat daar ‘n direkte korrelasie tussen veediefstal en plaasaanvalle is. Die organisasie eis dat indringende aksie teen groepe en politiekeparty-verteenwoordigers wat boere as gronddiewe en uitbuiters etiketteer en geweld en rassehaat aanhits, geneem word.

“Die landbougemeenskap sal met die owerhede saamwerk, maar ons sal op ons eie ook aangaan waar ons moet.”

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za