Visser-broers hier om tuisdorp te inspireer

0
Visser-broers hier om tuisdorp te inspireer

Suid-Afrika se YouTube-sangsensasie, Vicus Visser, sal Bloemfonteiners op 18 April 2013 vermaak met ’n musiekoptredes by die Universiteit van die Vrystaat. Vicus sal saam met sy talentvolle broer, Vincent, by die Wynand Mouton-teater optree om hulle tuisdorp se bewonderaars ‘n smakie te gee van hul onlangse vertonings in Amerika. Vicus, wat al die Bloemfonteinse Justin Bieber genoem is, het in Februarie vanjaar vir die eerste keer oorsee opgetree toe hy en sy broer by geleenthede ter viering van die Black History Month in Washington DC en New York opgetree het. Een van hulle optredes was by die Kennedy-sentrum in Washington DC waar hulle hulde gebring het aan Nelson Mandela en Martin Luther King.

Vicus het in 2010 bekendheid verwerf toe ‘n musieksnit van hom as tienjarige seun op die internet verskyn het waar hy “These Arms” deur All for One sing. Na ‘n omvattende sewe jaar lange soektog deur plaaslike en internasionale platemaatskappye op sosialemedia-netwerke, is hy in Heidedal opgespoor. Vicus en Vincent het in 2012 na Johannesburg verhuis, waar Gareth Cliff, top-radio-omroeper en beoordelaar van Idols Suid-Afrika, as hulle bestuurder en mentor optree.  Gareth sal by die Visser-broers aansluit as seremoniemeester van die konsert getitel, Singing the Dream for South Africa – The Kennedy Centre Performance. Soos met hulle optrede in Amerika, sal die broers hulle tuisskare vermaak met ‘n versameling liedere in Engels, Zoeloe, Sesotho en Afrikaans.

Vicus, Vincent en Gareth sal ook spesiale optredes hê by die twee gradeplegtigheidseremonies op 18 April 2013 om 09:30 en 14:30. Hulle sal ook om 11:45 ’n ontmoet-en-groet-sessie met studente op die Thakaneng-brug hê. Graduandi gaan ook inspirasie kry van die Amerikaanse student en klopdanser, Joshua Johnson, oor wie daar wyd in oorsese media berig is. Joshua het Amerikaanse gehore in verwondering met sy storie van hoop en deursettingsvermoë. Dié student van Penn State University reis elke naweek vyf ure per bus na New York, waar hy op moltreine dans om geld vir sy studies te verdien.

Joshua het al op die Ellen DeGeneres Show verskyn en sy storie is ook al in die New York Times en op die Amerikaanse nuusprogram ABC World News met Diane Sawyer, vertel.  Joshua sal as gasspreker optree by die seremonies op 16, 17 en 19 April 2013. Hy gaan ook ’n dans-item lewer. Kaartjies vir die Singing the Dream for South Africa – The Kennedy Centre Performance kos R20 en is beskikbaar by Kamer 5, Thakaneng-brug. Die vertoning begin om 19:30. Vir meer inligting, kontak Nicoleen Snyman by snymann@ufs.ac.za of 051-401-9598/051-401-9102.

No posts to display