Viljoen oorgehaal ná inperking

0
214
MJ Viljoen tydens die 2019 KCB-Karen Meesters at Karen Buiteklub in Nairobi, Kenia. FOTO: SUNSHINE TOUR

Die 25-jarige beroepsgholfspeler van Bloemfontein, MJ Viljoen, is slaggereed om weer sy staal op die gholfbaan te toon wanneer dié sport op die hoogste vlak in Suid-Afrika hervat.
Die SA Sonskynreeks sal binnekort ‘n aangepaste kalender aankondig met die doel om teen die middel van Augustus mededingende gholf te hervat.

Weens die wêreldwye Covid-19 pandemie is geen gholf op professionale vlak in Suid-Afrika gespeel sedert die Toer-kampioenskap die einde van Februarie nie.
Viljoen, wat in 2015 sy toerkaart op sy tuisbaan, die Bloemfontein Gholfklub verdien het, erken dat hy die nasionale inperking gebruik het om die fyner besonderhede van sy spel uit te stryk.

“Ek sien regtig daarna uit om weer in gholftoernooie te kan speel. Om elke of tweede week gholf te speel, hou ‘n mens gemotiveer, veral in die sin van harde werk soos gym-werk en dit help ook met geestelike stabiliteit.

“Die inperking was vir my nie te sleg gewees nie. Ek en my afrigter, Hendrik Buhrmann, was hard aan die werk. Ons werk al die afgelope twee jaar aan my swaai. Dit het vir my die geleentheid gebied om te fokus op alles wat nie reg was nie en om dit reg te stel. Hopelik sal die veranderinge inskop en dit maak my nog meer opgewonde om weer te speel. Toe die gholfbane weer oopgemaak het, was dit regtig lekker om weer te speel. Totdat ‘n mens die dag ophou speel, kan jy nooit sê jou gholf is goed genoeg nie.”

Die wenner die 2017-Visrivier Sun-kampioenskap, wat ook ‘n gekwalifiseerde vlieënier is, is ook van mening dat die inperking vir hom ‘n goeie geleentheid was om vir ‘n slag tyd by die huis deur te bring.

“Dit was ook heerlik om by die huis te werk. Uit wat ek kan onthou, was dit die langste nog wat ek tyd by die huis deurgebring het, en dit was vir my baie goed. Dit was lekker om hard te werk aan ‘n paar goed en nie vir ‘n week of twee te speel nie.

“Ek het ook onlangs van Hartswater af teruggekeer waar ek ‘n eksamen in lugvaartreg (air law exam) geskryf het. Dit was maar om my vlieglisensie op datum te bring. Hopelik sal ek ook binnekort weer kan begin vlieg.”

Die 2019/20-seisoen is tot dus- ver Viljoen se beste nog en hy beklee tans die tiende posisie op die Sonskynreeks se “Order of Merit”. – MORGAN PIEK