Vier VKB Knights-spelers by nasionale kamp betrek

0
171
Die VKB Knights-kolwer en voormalige Suid-Afrikaanse o.19-kaptein, Raynard van Tonder FOTO: MORGAN PIEK

Vier spelers van die VKB Knights is betrek by die sterk 44-man- nasionale hoëprestasie-groep wat deur Krieket Suid-Afrika saamgestel is.

Die doel van die groep is om te alle tye die beste spelers moontlik beskibaar te hê vir nasionale diens by die Proteas.

Spelers van die sentrale franchise wat nader getrek is, is die naatbouler, Gerald Coetzee, die kolwer, Raynard van Tonder, die draaibalbouler, Shaun von Berg, en die kaptein van die Knights, Pite van Biljon.

Behalwe vir Van Biljon, het die ander reeds begin oefen as deel van die nasionale kamp, al is hulle nie almal saam as ‘n groep van 44 spelers weens die Covid-19 pandemie nie.

Coetzee en Van Tonder oefen saam met Allan Donald by die krieketunie in Bloemfontein, terwyl Von Bergh, wat in Pretoria woon, by die Nasionale Hoëprestasie-sentrum by die Universiteit van Pretoria oefen. Op sy beurt herstel Van Biljon nog van sy skoueroperasie, en sodra hy sy rehabilitasie voltooi het, sal hy saam met Coetzee en Van Tonder inval.

Volgens die Knights se breier, Donald, is dit in hierdie stadium moeilik om te oefen weens die streng regulasies. Hy het egter reeds met Coetzee en Van Tonder begin werk by die stadion.

“Die nasionale kamp het reeds begin. Von Berg oefen by Tukkies, Pite herstel van sy skoueroperasie en dit sal nog ‘n geruime tyd wees voordat hy kan oefen.

“Ek en ons kolfafrigter, Gerhard Maree, het reeds met Gerald en Raynard geoefen en ek dink dié twee het die uitstappie nogal geniet, siende dat hulle vir lank nie ordentlik kon oefen nie.” – MORGAN PIEK