“Sake van moord en aanranding, met die doel om ernstig te beseer, is by Parkweg geopen.”
Vier verdagtes sal Maandag (20/5) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van moord en aanranding ná die dood van ’n student van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein.
Tumelo Monyane (27), Thabang Mabesa (25), Neo Molefe (23), en Thato Mahlomela (20) is almal op borgtog van R500 en R1000 vrygelaat. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.
Thato Molaudi (19) is Saterdag, 20 April in Viljoenskroon ter ruste gelê nadat hy op Dinsdag 9 April op pad kampus toe aangerand is.
Vermoorde SUT-student op Viljoenskroon ter ruste gelê
“Die vier beskuldigdes is op borgtog van R500 (beskuldigdes 1 en 3) en R1 000 (beskuldigdes 2 en 4) vrygelaat,” het Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder van die Vrystaat, gesê.
“Die saak is tot 20 Mei 2024 vir verdere ondersoek uitgestel.”
Die vier se eerste hofverskyning was op Donderdag 11 April nadat hulle onmiddellik ná die aanval op Dinsdag 9 April in hegtenis geneem is.
Molaudi is in King Edwardstraat aangerand op pad kampus toe om tou te staan sodat hy sy NSFAS-toelaag kon verifieer.
Vier verdagtes in hof ná SUT-student se dood
“Dit is tragies dat die lewe van ’n jong persoon so voortydig beëindig is en nog ’n jong mens ernstig beseer is. Die universiteit sien hierdie voorval in ’n baie ernstige lig,” het SUT-woordvoerder, Seithathi Semenokoatsane, gesê.
“Die universiteit sal voortgaan om saam met sy beskermingsdienste, SAPD, en ander sekuriteitsverskaffers in die gebied te werk om maniere te vind om veiligheid vir ons studente, in die besonder, en die gemeenskap in die algemeen te verbeter.”
‘n Derdejaarstudent, Lerato Khobeni, is ook daardie oggend aangerand en is in die hospitaal behandel en ‘n paar dae later ontslaan.