Bloemfontein – SASCOC het 54 atlete in 12 sportkodes gekies om Suid-Afrika by die tweede Olimpiese Spele vir jeugatlete te verteenwoordig. Die spele vind plaas van 16 tot 28 Augustus in Nanjing (Sjina).
Vier Bloemfonteinse skoliere in hierdie prestige-span ingesluit.
Die spoedvraat van die HTS Louis Botha, Ronald Rakaku, sal in die naelope in aksie wees nadat hy ‘n maand gelede by die Afrika-jeugkampioenskap die 100 m-titel in ‘n blitsige 10,52 gewen het.
Jamey-Sue Vermaak (Oranje), wat ongetwyfeld een van die beste multisport-skoleatlete van alle tye in Suid-Afrika is, gaan in die driekamp in aksie wees. Dit is ‘n sportsoort wat sy nie lank beoefen nie en haar insluiting in dié gesogte span bewys weer eens haar veelsydigheid.
Die twee kookwater onder 18-hokkiespelers van die Rosestad, Marizen Marais (Eunice) en Antonet Louw (Oranje) is albei ingesluit in die nasionale span vir Nanjing.
Louw was onlangs die kaptein van die Suid-Vrystaatspan (onder 18) wat die nasionale toernooi gewen het. Marais is egter bo Louw gekies as kaptein vir die Suid-Afrikaanse skolespan in dieselfde ouderdomsgroep.
Die laasgenoemde span het kragte gemeet teen hulle eweknie van Australië en in ‘n reeks van drie toetse ‘n bloutjie geloop. Hulle het die onderspit gedelf met 0 – 4, 2 – 3 en 1 – 5.