E Copy

Date:

Vier ry fiets vir Hospice Bloemfontein

Vier vriende het dit op hulself geneem om bewusmaking oor Hospice Bloemfontein te kweek deur ’n fietsrit na Boknes in die Oos-Kaap.Hul rit van byna 800km het op 15 Junie in Bloemfontein begin, met die doelwit om op 21 Junie by hul bestemming te wees.

Die veldtog is gelei deur Tommie van Straten, ’n onderwyser van Grey Kollege Primêr. Sy oorspronklike Facebook-plasing, wat Bloemfonteiners aanmoedig om by Hospice Bloemfontein betrokke te raak, lees: “Met hierdie reis wil ons bewustheid skep van hierdie baie belangrike en sorgsame taak waar Hospice Bloemfontein ’n verskil maak in die lewenskwaliteit vir individue wat die einde van hul lewens nader.

“Ons wil die gemeenskap aanmoedig om by hierdie projek betrokke te raak, hetsy deur ’n finansiële skenking aan Hospice Bloemfontein te maak of deur hulle op enige moontlike wyse by te staan.”

Van Straten het vertel dat hy oorspronklik net ’n avontuur wou aanpak, maar ná ’n gesprek met Elsabé Oberholzer – wat by die Hospice Bloemfontein betrokke is – het hy besluit om die avontuur aan te pak en ook ’n verskil vir die organisasie te probeer maak. “Dit het vir my as ’n avontuur begin en later het ek gedink om iets te doen vir fondsinsameling,” het hy vertel. “Ons is hier weg, vier vriende, met uitstekende ondersteuning.”

Die vier fietsryers het hul rit te danke aan “uitstekende ondersteuning” voltooi. FOTO: VERSKAF

Vir Jacques Zijlstra, wat ook een van die vier liefdadigheidsavonturiers was, was die sewende dag van hul reis ’n hoogtepunt. “As jy so oor die knoppe kom, en jy is moeg gery, jou lyf is seer … om fisies en psigies agter te kom jy het dit gemaak,” het hy vertel. “Om dan die see te sien, dit is ’n gevoel wat ’n mens nie kan beskryf nie.” Hy het ook gesê dat hy weer in die toekoms so ’n rit sal aanpak.

Van Straten het verder verduidelik: “Hospice Bloemfontein is maar soos enige organisasie, hulle het geld nodig en werk om hul pasiënte se pyn te verlig, dit draaglik te maak en hulle te ondersteun.”

Hy het ook vertel dat Hospice Bloemfontein hul pasiënte se families en geliefdes ondersteun, en daarom het hy besluit om dié organisasie te ondersteun, en namens hul geld in te samel. “Al is die lyf en die bene seer, bly dit in ’n mate lekker,” het Van Straten vertel. “As jy of ’n geliefde van jou daar moet eindig, watter versorging gaan jy wil hê?” het hy gevra. “Dit is hoekom ons hierdie fondsinsameling gedoen het: Om hulle te help om ander mense te help,” het Van Straten afgesluit.

 

Warren Hawkins

warren@mahareng.co.za

Share post:

Popular

More like this
Related

Mangaung Municipality cracks down on crime at Northern Landfill Site

A large-scale operation was recently conducted at the Northern...

Free State roads quieter this Easter; speeding still remains a concern

Road accidents across Bloemfontein and surrounding areas saw a...

Mangaung Metro acts on community needs in updated service delivery plan

The Mangaung Metro Municipality (MMM) outlined its strategic roadmap...