Vier oudleerlinge van OMS vang saam graad

0
869
Van links is Mia Vosloo, Doré de Necker, Dahné Beukes en Chrisna Goosen, wat op die 11 Desember 2019 graad vang by die Universiteit van die Vrystaat.

Vier oudleerlinge van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, wat in 2014 gematrikuleer het, het verlede Vrydag saam feesgevier toe hulle die blye nuus ontvang het dat hul nou dr. voor hul naam kan skryf. Bloemfontein Courant het met die vier jong vroue gesels oor hul tyd aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Mia Vosloo sê as sy aan die afgelope vyf, of eintlik 10 jaar dink, is daar net een woord wat by haar opkom, en dit is dankbaarheid. “Ek’s dankbaar vir die geleenthede wat Oranje my gebied het en die waardes wat my skool my geleer het.” Vosloo sê die afgelope vyf jaar van mediese studies was beslis ‘n baie steil opdraende, maar dit is juis hoekom dit van jou die bes moontlike weergawe van jouself maak.

Dahné Beukes se advies aan voornemende studente is dat hulle dit dag vir dag moet vat. ‘n Mens het ‘n sekere idee van hoe dit gaan wees om medies te studeer, maar dit is soveel meer as dit. “Daar is baie opofferings en ‘n mens sê baiekeer, nee, jammer ek nie kan kom nie, ek moet studeer.” Sy sê verder dat die reis taai en lank was, maar as sy terugkyk oor die afgelope vyf jaar, was dit die moeite werd.

Chrisna Goosen, nog een van die vier, sê dat dit ‘n groot voorreg was om die kursus saam met haar mede-Oranje-susters te kon voltooi. Sy sê sy kan net haar familie, vriende en Hemelse Vader bedank dat hulle haar hierdeur gehelp het.

“Eerstens was dit beslis een van die moeilikste dinge wat ek in my lewe moes doen. Alles wat mense oor medies sê, is waar – jy het nie regtig ‘n sosiale lewe nie, jy studeer heeltyd en dit is fisiek en emosioneel baie dreinerend. Maar dit is die moeite werd.”

Doré de Necker het verduidelik dat die vyf jaar taai maar terselfdertyd baie bevredigend was. “Dit was wonderlik om te sien hoe my mede-hoërskoolklasmaats deur die jare groei; al drie het goeie karakter getoon.”

Beukes wil aan inkomende eerstejaar- mediese studente sê: “Studeer hard, hou altyd die groter prentjie in gedagte as dinge moeilik raak en maak vroeg vriende in jou klas; hulle gaan ‘n paar jaar saam met jou die pad stap.”

Die vier oudleerlinge van OMS vang op 11 Desember 2019 graad aan die UV.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za