Vier gesoek in verband met gewapende roof by Bloemfonteinse kettingwinkel

0
1783

Die polisie in Bloemfontein soek na vier rowers in verband met ‘n voorval gisteraand waarin ‘n koskettingwinkel in die middestad beroof is. Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê die gewapende mans wat geklee was in sekuriteitsuniforms, het omstreeks 19:00 in die winkel ingestap. Hulle is reguit na ’n kantoor in die winkel waar geld gehou word. Marope sê die rowers het twee kassiere in die kantoor met vuurwapens aangehou en hulle gedreig om die kluis oop te maak.

Die rowers het ‘n onbekende bedrag geld gebuit. Die twee kassiere in Shoprite Checkers in ‘n middestadsentrum se kantoor se trouringe is ook gevat.

Marope sê die booswigte het by ‘n deur aan die agterkant van die gebou uitgegaan en met ‘n wit dubbelkajuitbakkie met ‘n Gauteng-nommerplaat op die vlug geslaan.  – Christal-Lize Muller