E Copy

Date:

Vier Bloemfonteiners wen wêreldtitels op een dag

Dit klink vergesog, maar jy kan nie teen feite stry nie. Die Rosestad het die naweek in die individuele wedlope op die tweede UIPM (wêreld- moderne vyfkampvereniging)-wêreldkampioenskap in Lissabon, Portugal, vir die veelkampdissipline in die kombinasie van laserskiet-en-hardloopnommers, nie minder nie as vier goue medaljes opgeraap.

Daar moet egter onthou word dat dié kampioenskap nog in sy babasokkies staan en dat nie al die lande op die aardbol op die byeenkoms slaags was nie. In sekere ouderdomsgroepe (veral ouer ouderdomsgroepe en meestersafdelings) was daar ook nie meer as ‘n handvol deelnemers nie.

Laserskiet- en hardloop is ‘n kombinasie van hardloop (400m rondtes) en skiet met ‘n laserpistool vanaf ‘n afstand van tien meter, alles aaneen.

In die wedloop waarin die begaafde Bloemfonteiner, Alex Klopper, deelgeneem het, was daar egter strawwe mededinging. Altesaam 14 atlete het die wedloop voltooi, maar die aksie was in die voorste linies waar Klopper haar beste hardloop- en skietvernuf ten toon moes stel om oorwinning te smaak. Drie Egiptenare het haar ‘n harde tyd gegee, maar die Rosestad se blonde bondel energie het uiteindelik die knoop deurgehak vir die wêreldtitel in die jeug-D-afdeling vir meisies.

Klopper het in 4:48,16 geseëvier, terwyl die Egiptenaar, Malak Ismael (4:48,96), haarself goed van haar taak gekwyt het. Die ander twee Egiptenare, Habiba Khalil (5:01,61) en Zelna Amer (5:05:00), moes as derde- en vierdeplekwenners huiswaarts keer.

In die afdeling vir junior meisies was die Bloemfonteiner, Charné Viljoen, die voorbok. Sy het die titel voor drie ander deelnemers wat die wedloop voltooi het, gebuit. Viljoen het in 14:25,63 gewen en die atleet van Portugal, Margarida Prata (16:24,92), voor haar tuisskare pak gegee. Nog ‘n atleet van Portugal, Nicole Geraldes (16:54,95), moes met brons tevrede wees.

Lienke Snyman het ook die Rosestad se vaandel hoog laat wapper met haar oorwinning in die Jeug-C-afdeling vir meisies. Haar oorwinning onder die genoemde Bloemfonteinse atlete was die gerieflikste nadat sy die eindpunt in 6:38,33 bereik het. Sy het sodoende Amira Kandil (Egipte, 6:57,61) na haar asem laat snak. Snyman se Suid-Afrikaanse spanmaat, Karla Grobler (6:59,73), was derde.

Stella Heyns is as Bloemfontein se vierde wêreldkampioen gekroon nadat sy die C-afdeling vir meestersvroue beklink het. Courant kon nie haar wentyd en volledige uitslagkaart bekom nie. – RUFUS BOTHA

Share post:

Popular

More like this
Related

R6 million allocated for Bloemfontein Zoo revamp

Mangaung Metro targets full reopening by 2028, plans major...

Universitas Hospital unveils first of its kind surgical robotics system

Universitas Academic Hospital has made history with the official...

Free State Mortuary backlog: 42 autopsies still pending amid urgent efforts

The Free State Department of Health has confirmed that...

Bloem schools bold about bullying

Bullying is more than just verbal or physical abuse...