Op Dinsdag 24 September is daar vier biere op die spel wanneer die Bloemfontein Striders-hardloopklub die heel eerste Biermyl aanbied.
“ ’n Biermyl is ’n standaard mylafstand op ’n atletiekbaan wat baie meer opwindend gemaak word met ’n bier voor elke rondte,” vertel Jaco Ebertsohn, voorsitter van die klub. “Met ’n biermyl drink deelnemers ’n 340ml bier en hardloop dan ’n 400m rondte om die atletiek baan – vier keer. Dit gee die totaal van 1 myl of 1.6km.”
Daar is reëls betrokke by ’n biermyl, en regulasies wat besluit wie die uiteindelike wenner kan wees. Alhoewel hierdie die eerste biermyl in Bloemfontein gaan wees, verduidelik Ebertsohn dat dit baie gewild is in Europa en Amerika, en dat daar selfs onlangs ’n Biermyl Wêreldkampioenskap aangebied is.
“Op Erfenisdag vier ons elkeen ons erfenis op ’n unieke manier,” het hy vertel. “Ons as hardloopgemeenskap kom uit verskeie kulture, maar ons vier saam die liefde vir hardloop deur bymekaar te kom vir ’n meer sosiale wedloop.
“En wat beter as om braaivleisvure en bier daarmee te kombineer, wat eg is aan ons Suid-Afrikaanse erfenis,” het Ebertsohn bygevoeg. Die doel met die Bloemfontein biermyl is om die dag te geniet en Erfenisdag te vier.
Op die dag sal daar ook tienmyl wedlope, ’n damesmyl, en aflosmyle ook wees, met alkoholvrye biere ook beskikbaar. “Die hele gesin is welkom om die dag saam te geniet met baie, én groot pryse te wen,” het hy gesê.
Bloemfontein se eerste biermyl sal om 10:00 by die Mangaung-atletiekbaan begin. Die inskrywingsfooi is R100 per persoon, en meer inligting is op bloemstriders.co.za of op hul sosialemediaplatforms beskikbaar.
Warren Hawkins