VIDEO: Duisende liter water steeds daagliks verlore in stad

0
548

Te midde van 'n waterkrisis wat die Mangaung-metro-munisipaliteit in die gesig staar, gaan derduisende liter water daagliks in die stad verlore.Van gesuiwerde water wat in kanale afloop, tot water wat by sypaadjies uitborrel – dis wat inwoners van die metro die harnas injaag.
'n Inwoner van Wilgehof, Frik van der Westhuizen, het Courant genader oor suiwer water wat van iewers duskant Hospitaalpark kom en vir jare reeds in die spruit afloop en uiteindelik, volgens inlgting wat aan hom verskaf is, in die Krugersdriftdam beland.
In Bromptonweg in Navalsig syfer helderskoon water by 'n stukkende pyp buite die Brombee Court-woonstelblok uit. Daar is blykbaar aandag aan gegee (volgens die afsperring wat deur die munisipaliteit gedoen is). Sien video-greep op www.bloemfonteincourant.co.za
Volgens 'n ontstoke inwoner gaan dit nou reeds tussen drie en vier maande so aan. Die water vloei eenvoudig straat-af in 'n stormwaterpyp in.

Courant het voorverlede week berig oor waterbeperkings wat ingestel is, maar as daar gekyk word na water wat gemors word, is daar steeds meer vrae as antwoorde. Inwoners is bekommerd oor water wat verlore gaan in dié krisistyd.
Dit is so dat waterbeperkings nodig is om water te spaar, maar te oordeel aan wat Courant op 'n feite-sending wys geword het, blyk dit dat die water wat verlore gaan nie juis 'n prioriteit blyk te wees nie.
By navraag oor die situasie in Bromptonweg het die operateur wat die telefoon op die metro se hulplyn beantwoord gesê indien daar 'n afsperring is, dit beteken dat die munisipaliteit bewus is van die situasie. Sy kon nie bevestig of die probleem wel aangemeld is of nié.
Inwoners het vroeër gekla dat hul oproepe na die munsipaliteit se noodnommers (0800-111-300 of 051-410-6689) nie beantwoord word nie. Courant is met die eerste probeerslag gehelp.
Intussen sê die DA se woordvoerder vir water, Rossouw Botes, volgens sy kennis gaan tot soveel as 38% gesuiwerde water per maand verlore. Hy noem dat die ideaal is dat slegs 22% verlore gaan.

"Die laaste syfer wat ek gekry het is dat dit in die omgewing van 30% is en dit is nog steeds te veel. Wat ek wel kan byvoeg is dat die munisipaliteit groot probleme redelik vinnig oplos, dit is die kleiner probleme wat langer neem om te herstel," het hy bygevoeg.
Hy noem ook dat dit moeilik is om presies vas te stel waar oral in die metro lekkasies is, aangesien die munisipaliteit in sekere gevalle vinnig speel om reg te maak waar hy kan.
"Dit is soms so dat daar in die oggend probleme aangemeld word wat teen die einde van die dag opgelos is, so dit is moeilik om te bepaal waar in die stad werklik probleme is."
Botes het juis Dinsdagoggend met die stadsbestuurder, Sibongile Mazibuko, vergader oor die waterkwessie en 'n aankondiging word
binnekort verwag. – Owen Kock

owen@centralmediagroup.co.za