Gesels jy met die bobaas-karateka van Bloemfontein, die 24-jarige Rohan Verwey, is dit bykans ondenkbaar wat dié man vermag het in sy karate-loopbaan. En, jy sal dink hy is die spreekwoordelike “softy” as jy met hom gesels, want hy is duidelik saggeaard en die rustigheid vanself.
Kyk jy egter na sy opgang en vertonings vandat hy met die Amerikaanse Tae Kwondo (ATA)-karatestyl op die jong ouderdom van slegs ses jaar begin het, gaan jy tweekeer dink en probeer om nié aan sy verkeerde kant te wees nie.
Verwey het onlangs deelgeneem aan die eerste van wat beloof om ‘n jaarlikse instelling te word, die Arnold Classic-sportbyeenkoms in Sandton, Johannesburg. Dié byeenkoms is vernoem na die voormalige en veelvuldige wêreldkampioen in liggaamsbou, Arnold Schwarzenegger. En Schwarzenegger was teenwoordig waar verskeie sportsoorte beslis is.
Dit sluit alle sportsoorte in wat onder die vaandel van die vereniging, Martial Arts SA, resorteer.
Verwey het sy staal getoon in die genoemde Tae Kwondo-styl en in die tradisionele wapens-afdeling derde geëindig uit meer as 30 deelnemers. Hy het boonop tweede geëindig in die vorm-afdeling, dalk beter bekend onder die publiek as kata.
Sy Tae Kwondo-loopbaan het in 1998 begin en binne drie jaar het hy sy swart gordel (eerste dan) op slegs negejarige ouderdom verwerf. Hy het daarna skielik opgang gemaak en reeds in 2008 vir sy vyfde dan gekwalifiseer. Dié gradering is gedoen deur ATA-hoofmeester, Todd Droege (VSA), wat Suid-Afrika toe gereis het om die gradering te behartig.
Die hoogste gradering in Suid-Afrika is vyfde dan en Verwey is die jongste Tae Kwondo (ATA)-karateka wat dié swart gordel besit. Daar is slegs vier Suid-Afrikaners wat in die ATA-styl dié onderskeiding kon behaal.
Verwey, wat sy honneursgraad in sportwetenskap in 2015 aan Kovsies behaal het, het verskeie kere in Amerika deelgeneem. In 2007 het hy in Arkansas aan die wêreldkampioenskap deelgeneem in die 15 tot 16-jaar afdeling, maar in die uitdunrondes uitgeval.
In 2013 het hy in Boston in die tradisionele Tang Soo Do-styl op die wêreldkampioenskap meegeding en onder meer koppe gestamp met die wêreldkampioen in wat bekend staan as sparring fighting. Hy het sy ouderdomsgroep gewen en moes in die eindrondes met die wenners van al die ouderdomsgroepe meeding. Hy het toe teen ‘n sesde dan te staan gekom en is sodoende uitgeskakel.
Daarna (2015) was dit weer Arkansas toe. Hier het hy in die sparring-afdeling in die uitdunrondes gelykop geëindig met die wêreldkampioen in sy afdeling.
Verwey is verlede jaar as ATA se Suid-Afrikaanse swart gordel van die jaar aangewys en dit was uit hordes swart gordels wat eerste tot vyfde dan insluit. Hy het boonop die Suid-Afrikaanse Tae Kwondo-titel reeds vyf keer agter sy naam geskryf.
Hy is tans die eienaar van sy eie klub, Martial Arts and Karate for Kids. – RUFUS BOTHA