Verstaan effektetrust, en jy verstaan beleggings

0
606

Die meeste van ons het iewers blootstelling aan ‘n effektetrustfonds, hetsy deur ons aftreefondse, spaarplanne of sommer direk by ‘n batebestuurder.
Ek hoor gereeld opmerkings soos “uittree-annuïteite lewer goeie groei”, of “uitkeerpolisse lewer swak opbrengste”. Dié opmerkings is nie heeltemal korrek nie, aangesien iets soos ‘n uittree-annuïteit of ‘n uitkeerpolis slegs produkte of leë doppe is waarin ‘n belegger sy beleggingsportefeulje kan struktureer.
So kan jy twee identiese uitkeerpolisse kry – die een se geld word belê in ‘n effektetrustfonds van batebestuurder A, en die ander een in ‘n effektetrustfonds van batebestuurder B. Die opbrengste van die twee uitkeerpolisse gaan vir seker nie dieselfde wees nie, en dit is selfs moontlik dat die een uitkeerpolis se opbrengste “swak” vertoon teenoor die opbrengste van die ander.
Moet dus nooit die produk as die belegging beoordeel nie. Gaan kyk eerder waar eindig jou geld onderliggend tot die produk op. Jy kan ook nie beweer dat ‘n uittree-annuïteit ‘n beter belegging as ‘n uitkeerpolis is nie, want as die twee produkte onderliggend in dieselfde effektetrustfonds belê is, gaan hul opbrengste dieselfde lyk.
Die unieke eienskappe van elke produk kan vir jou sekere belasting- en ander voordele bied, wat beteken dat jou geld in een produk vinniger meer kan word as in die ander, maar dit het niks met die beleggingsopbrengste te doen wat onderliggend gegenereer word nie.
Moet dus nie tussen die verskillende beleggingsprodukte begin rondspring op soek na beter opbrengste nie. Gaan evalueer eerder die onderliggende samestelling van jou produk se beleggingsportefeulje en maak daar die nodige aanpassings.
Moet ook nie “swak” opbrengste net toeskryf aan ‘n swak belegging nie, maar verstaan waar jou opbrengste vandaan kom en hoekom dit lyk soos dit lyk (goed of sleg). Jy sal dus ‘n goeie insig van die ekonomie, finansiële markte en die werking van ‘n effektetrustfonds moet hê om sin te kan maak van jou beleggingsopbrengste.
Wanneer jy verstaan hoe ‘n effektetrusfonds werk, sal baie aspekte rondom jou opbrengste en langtermyn-verwagtinge baie duideliker word. Soos in vorige rubrieke reeds oor gesels, sal jy jou effektetrustfonds eerder soos ‘n bate moet hanteer as kontant. Volgende week verduidelik ek hoe werk ‘n effektetrustfonds.
horace@nassaux.com