Die internet kan ’n wonderlike plek wees indien dit reg bestuur word. Dit is ’n onmisbare hulpbron wanneer dit kom by kinders se opvoeding en vermaak, maar bring ook talle risiko’s mee. Daarom is dit belangrik dat ouers hulself moet toerus met die nodige kennis en toerusting oor hoe om hul kinders in hul aanlynwêreld te beskerm.
Kinders self hoort ook toegerus te word deur ouers met gereedskap oor hoe om te maak indien hulle met aanlynmisbruik, aanlynboelies, “trolling” en aanlyn-afpersing te doen kry.
’n Oop gesprek met jou kind oor haar/sy aanlyn lewe is kardinaal. Kinders moet verseker word van die feit dat die ouer in alle omstandighede ’n veiligheidsnet vir die kind is. Dit gebeur dikwels dat kinders, weens hulle beperkte kognitiewe vermoëns as gevolg van hulle jong ouderdom, oordeelsfoute aanlyn begaan en dan die insident uit vrees weerhou van die ouer.
Verseker jou kind van jou onvoorwaardelike liefde te alle tye en hou by daardie onderneming wanneer jou kind jou kom vertel van iets wat aanlyn gebeur het. Soms is dit ’n skok vir ons wanneer ons kinders hierdie dinge met ons kom deel, haal egter diep asem en probeer jouself in jou kind se skoene sit. As dit vir jou ’n skok is, stel jou voor waardeur jou kind op daardie oomblik gaan.
’n Verdere belangrike aspek is om kinders te leer om gesonde emosionele grense en persoonlike grense te handhaaf. Hulle het toerusting nodig oor hoe om op te tree indien iets ongewens aanlyn met hulle gebeur. Hier speel die ouer-kind verhouding ’n reuse rol.
Gesels met jou kind oor potensiële aanlynrisiko’s. Bespreek die gevaar van kommunikasie met onbekende kontakte, die deel van persoonlike inligting en foto’s wat aanlynskobbejakke kan gebruik om jou kind mee af te pers en vrees by jou kind in te boesem, asook die risiko’s verbonde aan die deel van foto’s.
Kunsmatige intelligensie maak dit maklik om foto’s te verander tot so ’n mate dat iemand wat op ’n foto ten volle geklee is, deur die toep só verander kan word dat die persoon totaal naak is op ’n foto. Soms gebruik aanlynskurke hierdie toep om kinders te laat skrik, en pers hulle dan af met hierdie “naak” foto’s van die kind. Leer jou kind om onmiddellik met jou te kom praat indien so iets ooit met hulle gebeur. Neem ook skermskote van enige sulke dreigemente of kommunikasie aangesien dit die SAPS van hulp kan wees om die skurke vas te trek.
In ’n volgende artikel gesels ons oor die toeps wat ouers kan inspan om kinders se slimfone te beveilig.
*Nadine Blom is ’n prokureur, aanlynveiligheidskenner en omroeper by OFM. Sy doen landswyd praatjies by skole en vroueoggende om te verseker dat gemeenskappe veilig kan funksioneer in hul aanlynwêrelde.
Vrywaring: Hierdie artikel is geskryf deur Nadine Blom en is nie noodwendig die mening van die publikasie nie.