Versekering is voordelelig ná aftrede

0
Versekering is voordelelig ná aftrede

Ons het onlangs lekker gesels oor die opsies wat jy kan oorweeg wanneer jou aftree-dag nader kom. Ek kom egter agter dat, soos ‘n persoon sy of haar aftree-dag nader, daar net gefokus word op watter aftree-produkte gebruik gaan word en hoe die belegging saamgestel gaan word. Van die res word vergeet.
Wat van jou testament, boedelbeplanning, versekeringsvoordele en algemene finansiële beplanning? Dié aspekte bly baie keer agterweë en kry geen aandag nie.
Baie mense is ook van mening dat boedelbeplanning slegs gedoen word tydens jou werk-jare wanneer jy bates vergaar, en nie in jou aftree-jare wanneer jy begin afskaal nie.
Daar is ook die diegene wat ná aftrede hul lewenspolisse kanselleer, eerstens omdat hulle nie meer die premies as ‘n uitgawe wil hê nie, en tweedens omdat daar geglo word dat ‘n pensioenaris nie meer lewensversekering benodig nie. Onthou net, jou boedel gaan ná aftrede effens anders lyk as voor aftrede, afhangende van die opsies wat jy by aftrede uitoefen.
Eerstens, voor aftrede behoort jy aan ‘n aftreefonds (pensioen- of voorsorgfonds), en die opgegaarde gelde in dié fonds is ‘n bate buite jou boedel. Met aftrede neem die meeste lede van pensioenfondse die beskikbare een-derde van hul fondswaarde, of ten minste die R500 000 belastingvrye bedrag, in kontant. Dit beteken dat jou boedel onmiddellik vergroot met dié betrokke bedrag asook die moontlike boedelbelasting en eksekuteursfooie weens die groter boedel waarmee jy na aftrede sit. Moet dus nie lewensversekering as onnodig ag ná aftrede nie.
Lewensversekering kan steeds by afsterwe ‘n belangrike doel vervul in die betaling van boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en eksekuteursfooie. Dan hoef jou afhanklikes ten minste nie die beleggings wat jy vir hulle nalaat vir dié doel te gebruik nie.
Baie werkgewers daarbuite bied aan hulle werknemers Groepsversekeringskemas, waarop werknemers lewensversekerings- en ongeskiktheidsversekeringsvoordele geniet tydens hulle werksjare. Meestal het jy as werknemer ook die opsie om by aftrede die versekeringsvoordele oor te dra na ‘n individuele lewenspolis by ‘n versekeraar.
Uit my ervaring weet ek dat die meeste mense wat aftree, nie dié opsie uitoefen nie, omdat hulle of nie daarvan bewus is nie, of nie die uitgawe wil hê nie. Dink dus twee keer voordat jy lewensversekering van die hand wys by aftrede en beplan jou boedel na jou aftrede. – Horace Terry
horace@nassaux.com

No posts to display