Verregses: Prinsloo se gesondheid is ‘redelik’

0
436

LANI FOUCHÉ

Twee van die Mangaung-verregses, Johan Prinsloo en Mark Trollip, se gesondheid het in die afgelope paar weke erg verswak nadat hulle vir twaalf dae lank op ‘n eetstaking in die Grootvlei-tronk was.

Maar, dinge lyk nou beter nadat hulle Vrydag weer begin eet het.

Lede van Prinsloo se regspan het hulle Vrydag in die tronk besoek. Daarna het albei self besluit om weer te begin eet, omdat ‘n uitgerekte eetstaking ernstige gesondheidsgevare inhou.  "Ons het hom geadviseer om weer te eet, waarna hy so besluit het.  Ons het hom ook herinner dat hy Vrydag weer in die hof verskyn.  Sy gesondheidstoestand was onder die omstandighede redelik," het Johan Kramer van Kramer, Weimann en Joubert Prokureurs in Bloemfontein gesê.

Die presiese redes waarom Trollip sy eetstaking laat vaar het, is nie aan Courant bekend nie. 

Prinsloo is ‘n diabeet en Trollip is ‘n asmalyer, tog het beide steeds hul daaglikse medikasie onder streng toesig van die tronk se mediese personeel geneem.

Prinsloo en Trollip beweer die ondersoeke in hul saak neem te lank, en hulle was ook ongelukkig omdat hulle nog nie ‘n amptelike klagstaat onder oë gehad het nie. Ondersoekbeampte, Francois Laux, het egter bevestig dat die klagstaat teen eerskomende Vrydag afgehandel sal wees en aan die Bloemfonteinse Landdroshof voorgelê sal word.

Prinsloo en Trollip moet dan weer saam met hul mede-beskuldigdes, Hein Boonzaaier en Martin Keevy, in die hof verskyn waar hulle tereg staan op aanklagte van hoogverraad en sameswering om terreurdade te pleeg. Hulle het na bewering beplan om top ANC-leiers tydens die party se Mangaung-kongres verlede jaar te vermoor.

Courant het ook vertroulik verneem dat bykomende aanklagte teen die vier aanhangig gemaak kan word.
Hul verhoor sal na verwagting in November vanjaar begin.