Lani Fouché
Martin Keevy, een van die vermeende vier verregses, het Dinsdagoggend weer vlugtig in die Bloemfonteinse Landdroshof verskyn waar sy saak tot 19 Julie uitgestel is.
Sy 30-dae-lange psigiatriese waarneming, wat tydens ‘n vorige verskyning deur die hof beveel is, het vandag tot ‘n einde gekom. Volgens Hugo en Bruwer Prokureurs, wat vir Keevy verteenwoordig, sal die direkteur van openbare vervolging (DOV) binnekort die psigiatriese verslag onder oë kry waarna daar op ‘n regspad vorentoe besluit sal word.
Keevy is verlede maand beveel om – na ‘n aanvanklike kort sielkundige evaluasie – vir dertig dae amptelik in die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein waargeneem te word. Logistieke probleme het egter veroorsaak dat hy in die tronk waargeneem moes word.
Hy bly intussen in aanhouding in die Grootvlei Gevangenis saam met twee van sy mede-beskuldigdes, Johan Prinsloo en Mark Trollip.
Die vierde aangeklaagde, Hein Boonzaaier, is uit op R80 000 borgtog. Die vier moet weer saam op 23 Augustus in die hof verskyn waar hulle aanklagte van hoogverraad en sameswering om terreurdade te pleeg in die gesig staar.
Hulle het na bewering beplan om top ANC-leiers tydens die party se Mangaung-konferensie verlede jaar te vermoor.