E Copy

Date:

Verregses: Johan Prinsloo skryf uit tronk

LANI FOUCHÉ

Johan Prinsloo, een van die vier vermeende verregses, sê sy gesondheid het geweldig agteruitgegaan sedert sy inhegtenisneming verlede jaar, en dat hy waarskynlik juis daarom nie regverdig verhoor sal kan word nie.

Prinsloo het ‘n skrywe uit die Grootvlei-tronk buite Bloemfontein gerig waarin hy beweer sy regte tot waardigheid, ‘n spoedige en regverdige verhoor, mediese behandeling, om te lewe en om onskuldig te wees tot andersins deur ‘n hof bewys is, word geskend.

Hy voeg by dat hy in sy sewe maande van aanhouding nog nie ‘n amptelike klagstaat onder oë gehad het nie. Hoofondersoekbeampte in die saak, Francois Laux, het in reaksie hierop gesê dit is nie ‘n wetlike vereiste dat wanneer ondersoeke nog aan die gang is, hy ‘n klagstaat hoef te sien nie, en dat een tans besig is om opgetrek te word.

Prinsloo en sy mede-beskuldigde, Mark Trollip, het tronkowerhede in kennis gestel dat hulle van eerskomende Maandag af op ‘n eetstaking sal gaan om hulle griewe duidelik te maak.

Prinsloo en Trollip is die enigstes van die vier wat in aanhouding by Grootvlei is – Hein Boonzaaier is uit op R80 000 borgtog en Martin Keevy is onlangs na die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks oorgeplaas. Die vier word daarvan verdink dat hulle beplan het om top- ANC-leiers tydens die party se Mangaung-konferensie verlede jaar te vermoor.

Hulle moet op 23 Augustus weer saam in die hof wees.

Johan Prinsloo se amptelik brief:

Hiermee gee ek amptelike kennis van my voornemens om op die 5de Augustus 2013 op ‘n eetstaking te gaan.

Die doel van hierdie eetstaking is om die ontkenning van my basiese menseregte uit te lig op die enigste wettige manier tot my beskikking.

Dit is nou alreeds sewe (7) maande nadat ek gearresteer is en daar is tot vandag toe nog geen formele klagstaat ingedien nie. In hierdie tyd het die media en ander hulle self die geleentheid gegun om leuen op leuen oor my te verkondig, sonder dat my kant van die saak ooit gehoor is, omrede die hofsaak keer op keer uitgestel word oor klein saakies.

In my eenvoudigheid as mens kan ek nie verstaan hoe die SAP gedurig die saak wil uitstel om hulle ondersoek te voltooi nie. Moes hulle nie eers die saak ondersoek het en seker gemaak het van hulle feite voor hulle iemand net in die tronk kan gooi nie?

My vertroue in die regstelsel wat ek eens vurig ondersteun en opgebou het word benadeel, omrede die basiese beginsel van Onskuldig tot die teendeel in ‘n hof bewys is, klaarblyklik nie meer geld nie. Ek sien uit na my dag in die hof om my saak te stel en ek weet die waarheid sal my onskuld bewys, maar tot dan moet ek soos ‘n dier in ‘n hok aangehou word. Wie kan die dae wat ek hier spandeer het teruggee, die dag as ek onskuldig bevind word?

My vrees is dat hierdie saak nes die Boeremag saak uitgerek gaan word. Ek verstaan dat die regstelsel sy pad moet gaan en ek vra nie vir voorkeur ten opsigte van my saak nie, maar net die eenvoudige basiese reg om as onskuldige man saans in my eie bed te kan slaap, my medisyne te kan neem op tyd en soos voorgeskryf en ‘n dieet te kan volg om my gesondheid te herstel. Ek het alreeds 2 beroertes gehad en het ‘n familiegeskiedenis van hartkwale.

Die Grondwet van hierdie land waarborg ‘n individu sekere basiese menseregte. Die reg op waardigheid, die reg tot ‘n spoedige en regverdige verhoor, die reg tot mediese behandeling, die reg om onskuldig te wees tot andersins deur ‘n hof bewys is, die reg tot lewe. In die laaste sewe maande is hierdie basiese menseregte van my ontneem en dit alles sonder dat die ondersoek eers afgehandel was.

Ek is meer as bereid om by die strengste van borgvoorwaardes te hou. Ek sien uit na die dag om my saak in die hof te stel dat die waarheid kan uitkom. Maar ek kan nie langer berus met die vertrapping en verkragting van my basiese menseregte nie.

Ek is deeglik bewus van die implikasies en gevolge van hierdie eetstaking. My gesondheid het in die laaste sewe maande ongelooflik agteruit gegaan as gevolg van die beperkte toegang tot mediese konsultasies. Ek bid dat God my die krag sal gee om sterk te staan in hierdie aksie en dat Hy aan my familie en geliefdes berusting sal gee in hierdie tyd.

In my lewe het ek nog altyd baklei vir dit wat goed en regverdig is. Die leuens en verdraaings wat my waardigheid en menswees, my aksies en my geloof so vuil gesmeer het, is nie groter as my liefde vir my God, my mense en my volk nie.

Die doel van hierdie eetstaking is nie om voorkeur behandeling te kry nie, maar om dieselfde regte te kry as wat gewaarborg is in die Grondwet. Daagliks kry geharde misdadigers borg en is hulle terug op die strate, maar ek, teen wie daar nog geen formele klagstaat is nie, teen wie daar geen bewyse is sover my kennis strek nie, wat bereid is om by die strengste van borgvoorwaardes te hou, wie se gesondheid by die dag agteruitgaan, wat nie die laaste sewe maande toegang geniet het tot ‘n regverdige verhoor nie, ek moet in ‘n hok soos ‘n dier sit en toekyk hoe my regte vertrap word. Teen die tempo waarteen my gesondheid agteruitgaan is daar nie ‘n manier dat ek regeverdig verhoor sal kan word nie, want fisies en emosioneel is ek afgemat. Die gevolg is dat ek nie by volle gaan wees ten tyde van die verhoor nie as gevolg van my mediese toestand. Hoe sal so verhoor regverdig wees?

Dit is hartseer dat ‘n land wat soveel tyd spandeer om menseregte te bevorder so gerieflik kan wegkyk terwyl ‘n burger van hierdie land se regte vertrap word. My hoop is dat hierdie redelike versoek tot borg toegestaan sal word en dat ek ‘n kans gegun sal word tot ‘n regverdige verhoor.

J.H.Prinsloo

Share post:

Popular

More like this
Related

Filmmakers and activists invited to apply for NFVF GBV screening grants

The National Film and Video Foundation (NFVF) has made...

Water wasted for days in Martindale

A resident reported a water leak persisting for over...

MMM Faces Public Outcry Over Cosafa Tournament

The recent announcement by the Mangaung Metro Municipality (MMM)...

Eunice and Oranje share the spoils

Eunice Girls’ High School will head to Pietermaritzburg this...