Die verpleër wat daarvan beskuldig is dat hy ‘n kankerpasiënt in 2011 verkrag het, is pas in die Vrystaatse Hooggeregshof onskuldig bevind. Kadisang Michael Moema het tereg gestaan op twee aanklagte van verkragting nadat Magda Lombard beweer het hy het haar verkrag toe sy ‘n pasiënt in die Universitas Annex was.
Regter Faan Hancke het egter vandag bevind dat daar nie genoeg getuienis is om Moema se skuld bo alle redelike twyfel te bewys nie. Hancke het gesê dat Lombard terminaal siek was, onder die invloed van sterk medikasie was en onwerklike voorvalle beleef het. Haar verklaring was dus nie betroubaar nie. “Lombard sou verskeie aspekte moes verduidelik as sy nog geleef het,” het Hancke gesê. Hy het ook gesê aangesien die manlike DNA wat gevind is nie aan ‘n spesifieke DNA-profiel gekoppel kon word nie, kon hy nie die moontlikheid van ‘n ander bron as semen (bv. sweet), sowel as ‘n ander identiteit van die bron uitskakel nie.
Moema se regsverteenwoordiger, Pieter Nel, het na die uitspraak sy tevredenheid uitgespreek. “Ek dink in die geheel gesien was dit ‘n baie gebalanseerde uitspraak,” het Nel gesê. “Ek glo dat beide partye met die uitspraak behoort tevrede te wees. Ek dink werklik dat die regter uit sy pad uit gegaan het – sowel as die twee assessore natuurlik. Hulle het baie moeite gedoen en ek dink dit is ‘n uitstekende uitspraak.”