Ter viering van Internasionale Verpleegstersdag is drie verpleegkundiges van die Life Rosepark Hospitaal in Bloemfontein as streekswenners aangekondig as deel van die Life Healthcare se Great 100 Nurses-inisiatief. Die inisiatief behels dat een honderd verpleegkundiges uit die Life Healthcare-groep uitgesonder word vir uitsonderlike erkenning en is daarop gemik om verpleegkundiges te identifiseer wat die kwaliteite van omgee, sagmoedigheid en empatie omhels en toepas in hul daaglikse take. Die kwaliteite is bekendgemaak deur Florence Nightingale, die Engelse verpleegkundige wie se verjaardag op Internasionale Verpleegsterdag gevier word. Die tema vir vanjaar se Verpleegstersdag is “a force for change – a vital resource for health”. Volgens mev. Eunice Schulenburg, Verpleegbestuurder van Life Rosepark Hospitaal, het die hospitaal ‘n kultuur om erkenning te gee aan personeel en op Verpleegsterdsdag is dit geen uitsondering nie. “Vir Internasionale Verpleegtersdag is die Life Healthcare-groep se Great 100 Nurses- inisiatief wat in 2012 bekendgestel is voortgesit. Life Healthcare is jaarliks op soek na een honderd top-verpleegpersoneel in die groep, genomineer deur mede-kollegas en dokters”, sê Schulenburg. Die wenners, verpleegkundige Deborah Muller (onkologie), sr. Yolanda van der Hoven (operasie/teater) and sr. Lida Oberholzer (verpleegstandaard-bestuurder) het hul toekennings ontvang by ‘n spesiale Great 100 Nurses-toekenningseremonie in Bloemfontein op Maandag, 12 Mei 2014.