LANI FOUCHÉ
Quewin Coetzee, die veroordeelde moordenaar van Heidedal, moet weer op 26 Augustus in die Bloemfonteinse Landdroshof verskyn op ‘n aanklag van bedrog. Hy het Vrydag sy eerste hofverskyning op dié aanklag gemaak.
Dit, nadat hy vroeër vanjaar ‘n borgdokument laat vervals het en só uit die Grootvlei-tronk buite Bloemfontein as verhoorafwagtende moordverdagte ontsnap het. Hy is ‘n paar dae daarna weer deur die Valke aangekeer. Hy is in Junie vanjaar skuldig bevind aan die moord op sy eertydse swanger meisie, Celesté Fraser-Carson, en is 21 jaar tronk toe gestuur.
Regter Faan Hancke het tydens uitspraak in Coetzee se vonnisoplegging in die moordverhoor gesê die feit dat Coetzee doelbewus moeite gedoen het om Fraser-Carson se liggaam in ‘n vlak graf te begrawe nadat hy haar 24 slaappille ingegee het, was erg verswarend in die oorweging van sy vonnis.