Vermy finansiële voetfoute

0
314

Ons almal het al finansiële foute gemaak, en ons gaan in die toekoms steeds foute maak. Miskien moet ek dit nie foute noem nie, maar eerder verkeerde besluite.
Dink maar aan die klein ou belegginkie wat jy gemaak het om bietjie te spekuleer, maar toe verloor jy die betrokke paar rand; of die duur artikel wat jy by die winkel gekoop het omdat jy dit wou hê, maar nie nodig gehad het nie, nou lê dit iewers in ‘n kas.

Die was klein foutjies, wat jou finansies kon oorleef. Daar is egter ‘n paar finansiële voetfoute wat jou finansiële welstand kan ruïneer. Dink maar daaraan om jou werk te bedank, jou pensioenfondsgeld te vat, en ‘n eie sakeonderneming te begin.

Ek weet daar is mense wat dit gedoen het en ‘n reuse-sukses daarvan gemaak het. Dié persone is egter verreweg in die minderheid. Ek kan met ‘n hoë graad van sekerheid sê dat indien jy so iets gaan probeer doen, jy waarskynlik jou aftrede gaan ruïneer.
Byt dus maar eerder vas by jou werkgewer, al dryf dié jou teen die mure uit. Moet nooit die langtermynvoordele van aandeleblootstelling in jou belegging onderskat nie. Mens moet eintlik nie na aandele verwys as ‘n risikobate nie.

Die woord risiko koppel outomaties ‘n negatiewe konnotasie aan aandele, en miskien is dit daarom dat Suid-Afrikaners aandeel-sku is. Dink eerder aan aandele as die hulpmiddel wat jy kan benut om geleenthede in wisselvallige markte te kan benut.

Aandele kan jou dus help in jou stryd teen die eintlike vyand, naamlik inflasie. Moet nooit die voordele van risikoblootstelling in jou belegging oorskat nie. Daar is ‘n tyd en plek vir alles, so ook vir die neem van beleggingsrisiko.

Moet nie blindelings jou kapitaal aan risiko blootstel net omdat dit “veronderstel” is om goeie opbrengste te lewer nie. Daar is risiko’s wat heeltemal vermy moet word, aangesien daar net te veel vraagtekens rondom dit is, en daar is tye wat risikoblootstelling eerder vermy, of beperk moet word.

Dan laastens (vir dié rubriek), moet nooit al jou geld op een perd sit nie. Sinvolle diversifikasie is jou beste kans om redelike opbrengste oor die langtermyn te bewerkstellig, terwyl jy ‘n mate van beskerming sal geniet teen die wisselvalligheid wat op finansiële markte woed. Later meer oor finansiële voetfoute…

Horace Terry
horace@nassaux.com