LANI FOUCHÉ
Thea Brits, die dogter van die vermoorde dominee Willem Brits van Harrismith, sal vandag weer in die dorp se landdroshof verskyn.
Sy is van diefstal aangekla omdat sy glo haar verloofde se bankrekening leeggemaak het na sy moord verlede jaar.
Die nasionale vervolgingsgesag het vroeër gesê sy staar ook ‘n aanklag van die rig van ‘n vuurwapen in die gesig.
Die besonderhede oor dié klag is egter nog duister.
Thea se pa en haar verloofde, Gerhardus Vermeulen, is verlede jaar in hul pastoriehuis vermoedelik deur haar broer, Martin, en ‘n medebeskuldigde, Elliot Mhlambi, vermoor. Thea het ongedeerd daarvan afgekom.
Haar ma, Dorothea, is ernstig beseer en het lank in die Life Pasteur-hospitaal in Bloemfontein aangesterk. Sy is intussen onlangs na ‘n ouetehuis in Harrismith gebring, waar sy nou sal woon en versorg word. Sy moes alles van voor af leer doen – loop, eet en praat.
Thea het vandag op haar Facebook-blad gesê: "Wens net als kon al klaar gewees het. Dat ek kan aan beweeg saam my engel." Sy verwys hier na ‘n nuwe vriend.
Martin en Mhlambi sal weer op 4 Maart in die dorp se landdroshof verskyn.