Vermiste diere se ‘engelvrou’

0
505
Annette du Randt, met haar geliefde worshonde.

Ongeveer vyf-en-twintig honde en katte is in die afgelope maand van die strate in Bloemfontein gered. Die goeie dade is nie deur enige organisasie of liefdadigheidsbeweging gedoen nie, maar deur ‘n inwoner met ‘n liefde vir ons vierpoot vriende, Anette du Randt.
Du Randt, wat reeds vir agt jaar vermiste diere inneem, sê dat meeste sulke diere nie wegraak omdat hulle gesteel word nie, maar eerder omdat hulle uit die erf ontsnap en nie veilig binne gehou word nie.

“Mense moet kyk of hul erf geskik is vir diere voordat hulle diere aanhou. Eerstens moet jou erf beveilig word. Jy moet ook sorg dat jou swembad bedek is om te verhoed dat jou hond daarin verdrink,” sê Du Randt. Sy het ook opgemerk dat honde ontsnap deur in bome te klim of onder ‘n heining ‘n gat te grawe. Mense kan dit verhoed deur heinings te versterk met beton.

Sy verduidelik dat mikroskyfies belangrik is omdat dit die eienaars se inligting bevat en dit dan makliker is om diere wat wegraak se eienaars te vind. “Wat egter my hart breek, is wanneer ek dieselfde dier oor en oor kry nadat hy wegraak,” sê sy.

Du Randt het elf honde van haar eie, wat almal op hul dag verlore diere was. “Ek is baie lief vir worshonde en hulle het almal ‘n hartseer geskiedenis, maar ek help alle diere omdat daar nie een is wat ek wil agter laat wanneer hulle hulp nodig het nie.” Sy vertel hoe ‘n kat raakgery is deur ‘n motor maar gelewe het, terwyl die mense net verbygery het. ‘Elke mens kan probeer help deur ‘n verlore hond of kat in te neem of na die

Dierebeskermingsvereninging (DBV) te neem. Hulle is 24/7 oop vir verlore diere,” vertel die diereliefhebber.

Troeteldiere raak dikwels weg oor skoolvakansies wanneer gesinne weg is van die huis. Du Randt glo dat dit heelwaarskynlik die rede is vir die groot getal diere wat sy, Thelmarie Theron, in die afgelope paar weke onder hul vlerk geneem het.Theron vertel dat dit haar liefde vir diere is wat haar motiveer om te doen wat sy en Du Randt doen. “Ons is hul stemme. Diere kan baie ver wegloop en teen die tyd dat iemand help, kan hulle maklik reeds beseer wees,” sê Theron.

Du Randt is ‘n groot voorstander van die aanneem van ‘n dier in ‘n skuiling instede van ‘n hond of kat te koop. “Vir elke keer dat nuwe honde geteel word, word ‘n dier in ‘n skuiling genadedood toegedien,” sê sy. Theron en Du Randt lewer troeteldiere wat hulle red by die DBV af of neem hulle na ‘n veearts en betaal daarvoor uit hul eie sak. Hulle samel ook blikkieskos en speelgoed vir die diere in. – Nomaqhawe Mtebele
nomaqhawe@mahareng.co.za