Vermeende Harrismith-pastoriemoordenaars vandag weer in hof

0
1259

LANI FOUCHÉ

Die twee mans wat verdink word van die moord op dominee Willem Brits van Harrismith en sy aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen, verskyn vandag weer in die dorp se landdroshof.
Martin Brits (28) – wat ook Willem se aangenome seun is – en Elliot Mhlambi (41), het verlede week hul eerste hofverskyning gemaak nadat hulle aangekeer is weens die dodelike aanval op die Brits-egpaar en Vermeulen in die pastorie vroeër die maand.

Willem se vrou, Dorothea, sterk tans in die Mediclinic Bloemfontein aan weens die byl-kapwone aan haar kop. Hospitaal-woordvoerder Amanda Appelgryn het vroeër gesê Dorothea sal vandag nog ‘n breinskandering ondergaan, en afhangende van die resultate, sal hulle haar geleidelik van die ventilator begin speen en haar sedasie verminder. Sy het sedert die voorval nog nie haar bewussyn herwin nie, en is onbewus van die gebeure.

Mhlambi is op dieselfde dag weens dié voorval langs die N3 in hegtenis geneem. Hy het bloed aan sy klere en gesteelde goedere van die Brits-egpaar by hom gehad. Martin is die volgende dag na ‘n lang ondervraging-sessie deur die polisie aangekeer.

Martin het tydens hul eerste verskyning verlede week aangedui dat hy nie om borgtog wil aansoek doen nie, en het kort daarna ‘n skuldbekentenis in die Fouriesburg Landdroshof gemaak. Mhlambi gaan wel vandag om borgtog aansoek doen. Albei maak van staatsregshulp gebruik.

Vermeuelen is glo doodgeskiet. Die Brits-egpaar se dogter, Thea, wat ten tyde van die voorval tuis was, is ongedeerd.

‘n Roudiens is Donderdag vir Vermeulen in Harrismith gehou, en Vrydag vir dominee Willem. Martin het ‘n brief uit die tronk aan sy pa se kollega en mede-leraar, AJ Scherrer, geskryf waarin hy aan God, die gemeenskap en sy familie om vergifnis vra. Dié brief is tydens dominee Willem se roudiens in die kerk voorgelees.

"Ons het ‘n gevoel van kwaadgeid, maar ons moet hom vergewe, dit weet ons. Dit gaan net ‘n ruk neem," het ‘n jarelange vriend van wyle dominee Willem, Paul van der Merwe, kort na die roudiens gesê.