Lani Fouché
Die twee verdagtes in die Harrismith-pastoriemoordsaak sal Vrydag vir oulaas in die dorp se landdroshof verskyn voordat die verhoor in die Vrystaatse Hooggeregshof begin.
Woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, Phaladi Shuping, sê die direkteur vir openbare vervolging het gelas dat die verhoor na die hooggeregshof verplaas word weens die erns van die saak en dat ‘n verhoordatum Vrydag in die Harrismith-landdroshof vasgestel sal word.
Martin Brits en Elliot Mhlambi word daarvan verdink dat hulle Brits se pa, dominee Willem Brits, en sy aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen, in hul pastoriehuis verlede jaar vermoor het. Brits het reeds ‘n skuldbekentenis voor ‘n landdros gemaak en aan sy familie omverskoning vir sy dade gevra.
Brits en Mhlambi het mekaar tydens ‘n vorige tronkverblyf ontmoet. Brits is een van vier aangenome kinders.
Brits se ma, Dorothea, is ernstig in die voorval beseer. Sy suster, Thea Brits, het vroeër met Courant gesels. "Ek mis my pa elke dag – ons was baie close. Ek kry nou nog nagmerries oor daardie dag."