LANI FOUCHÉ
Die eienaar van die De Oude Kraal landgoed buite Bloemfontein, Gerhard Lombard, sê hy is platgeslaan oor die afsterwe van sy goeie vriend, Johnny Burger.
Burger was die eienaar van die Rietvallei-wynlandgoed op Robertson, en ook ‘n aangeklaagde in die opspraakwekkende Flippie Engelbrecht-aanrandingsaak.
Rapport berig dat 62-jarige Burger homself vanoggend kort voor 9uur op Robertson doodgeskiet het.
De Oude Kraal-eienaar Gerhard Lombard sê hy en Burger was goeie vriende, en is geskok om van sy selfmoord te hoor.
"Johnny was ‘n wonderlike, joviale mens. Hy was ook ‘n groot wynmens. As ek aan Johnny dink, dink ek aan daai lekker Muscadel wat hy gemaak het. Hy het dit op die map geplaas."
Burger en sy plaasbestuurder, Wilhelm Treurnicht, is daarvan beskuldig dat hulle Flippie Engelbrecht vyf jaar gelede aangerand het – wat hom blind, epilepties en sonder hande gelaat het.