Vermaas eindig algeheel derde in Durban

0
Vermaas eindig algeheel derde in Durban
Jayme-Sue Vermaas het Sondag in Durban goed vertoon by die Tinman driekampbyeenkoms. Sy was algeheel derde in die korter weergawe (sprint) van dié sportsoort. RUFUS BOTHA

Nadat Bloemfontein se Jayme-Sue Vermaas haar onlangse teleurstelling van diskwalifikasie op ‘n Europese driekampbyeenkoms in Tiszaujvaros (Hongarye), moes verwerk, het sy Sondag in Durban gewys dat sy steeds ‘n krag is om mee rekening te hou op Suid-Afrikaanse driekampbyeenkomste. Vermaas het in Durban aangetree vir die Tinman-driekampbyeenkoms in die korter weergawe (sprint) van dié sportsoort.

Meer as 90 deelnemers het mekaar in die afdeling die stryd aangesê en Vermaas het algeheel derde geëindig nadat sy ‘n puik swem-, fietsry- en hardloopskof afgelê het. Haar algehele derde plek sluit alle deelnemers van alle ouderdomsgroepe en geslagte in.

Vermaas het in die afdeling vir vroue 18 tot 24 jaar meegeding en haar swemskof in 8:53 voltooi. Sy was slegs sewe sekondes ná die algehele wenner, Darren Marquiss (wat 8:46 geswem het), uit die water. Daarna het Vermaas die fietsryskof in 41:42 afgetrap en dit opgevolg met ‘n hardloopskof van 20:25 – dit alles in gure weersomstandighede.

Haar eindtyd (1:12:47) was nie slegs minder as ‘n minuut agter die algehele tweede atleet, Raymond Radebe (1:11:55), nie; sy was bykans drie minute voor die tweede vroue-atleet, Robin-Leigh Jones (1:15:38). Jones het ook in die afdeling vir vroue 18 tot 24 jaar meegeding. Die derde vrou was die veteraan, Ilze Williams, wat goed vertoon het in die 40 tot 44 jaar-afdeling. Haar tyd was 1:16:46.

Vermaas se pa, Adri, het self ‘n goeie wedloop beleef. Hy het in die afdeling vir mans 55 tot 59 jaar eerste geëindig en ook ‘n netjiese algehele vyftiende plek behaal in 1:22:23. Adri het heelparty jonger manne op hulle herrie gegee en het die tweede atleet in sy ouderdomsgroep, Mario Zanningello (1:27:59), met meer as vyf minute bloedneus gegee. – RUFUS BOTHA

No posts to display