Verkragte kankerpasiënt was “by haar volle positiewe”

0
960

MARINÉ JACOBS

Die saak teen ‘n manlike verpleegster, Kadisang Michael Moema (33), wat aangekla word vir die verkragting van ‘n kankerpasiënt, Magda Lombard (51), het vandag weer in die Vrystaatse Hooggeregshof hervat. Lombard het in Oktober 2011 beweer Moema het haar verkrag terwyl sy ‘n pasiënt in die Universitas Onkologie-eenheid was wat op Nasionale Hospitaal se gronde geleë is. Volgens Lombard het ‘n vroulike verpleegster Moema gehelp deur haar vas te druk. Sy kon egter nie die vroulike verpleegster later tydens foto identifikasie uitken nie, maar het wel vir Moema uitgewys.

‘n Hospitaalsuster wat die betrokke dag saam met met Moema aan diens was, Patricia Peterson, het vandag in die hof getuig dat die twee verdagtes die dag ná die beweerde verkragting na Lombard se kamer geneem is as ‘n eksperiment. Lombard het geen negatiewe reaksie getoon nie, selfs nadat hulle haar hanteer het. Moema se regsverteenwoordiger, Advokaat Pieter Nel, het beklemtoon dat Lombard op sterk medikasie was, insluitend morfien en ‘n sterk slaapmiddel, en dat haar kalium-vlakke abnormaal laag was, wat die waarskynlikheid daarstel dat sy nie by haar volle verstand was nie. Peterson het dit ontken en gesê Lombard was by haar volle positiewe, alhoewel sy baie geslaap het. Sy het egter genoem dat Lombard soms geluide gehoor het soos ‘n baba wat huil en dat sy aan Peterson gesê het sy “kan voel dat sy deurmekaar raak.”

Kaptein Francois Laux, ‘n lid van die Valke, het ook sy beurt in die getuiebank gehad. Hy het vertel dat Lombard aan hom gesê het sy is vroeg Saterdagoggend (15 Oktober) verkrag en dat die twee verdagtes haar na die verkragting gewas het. Lombard se verstand was heeltemal helder tydens sy ondervraging, het hy gesê. Die ondersoekbeampte, Arlene Snyman, het ook getuig dat Lombard nie deurmekaar was toe sy haar verklaring gelewer het nie. Volgens haar kon Lombard selfs fisieke kenmerke soos letsels aan die vroulike verpleegster se gesig onthou.

‘n Mediese ondersoek is op Lombard gedoen en monsters is na die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria gestuur. Sy is op 18 November 2011 in ‘n privaathospitaal dood. Die saak sal môre voortgaan. ‘n DNA-deskundige, asook Lombard se onkoloog sal na verwagting getuig.