Verkiesing: Geleentheid of gevaar?

0
446

Gister het Suid-Afrikaners gaan stem, in waarskynlik die belangrikste verkiesing sedert 1994, en alle resultate is nog nie bekend nie.

Ons almal is egter deeglik bewus van gebeurtenisse soos staatskaping, swak ekonomiese beleid, onsekere politieke omgewing en vele meer, wat Suid-Afrika vir jare lam gelê het. Die resultate van bogenoemde is steeds duidelik sigbaar, en Suid-Afrika kon vandag op ‘n baie beter plek gewees het.

Toe kom Cyril Ramaphosa, en hy bring heelwat hoop saam met hom. Tot en met hede was ou Cyril ook maar ‘n teleurstelling. Heelwat kommissies van ondersoek is aangestel, waarvan almal skokkende onthullings maak, maar niks gebeur verder nie. Cyril verskyn op televisie, en lewer ‘n inspirerende toespraak, maar niks gebeur nie. Vir my lyk dit of Cyril ingehok is deur die steeds magtige Zuma-kamp in die ANC, of is hy?

Gelukkig het finansiële markte wêreldwyd vir die beter gedraai en lyk 2019 se opbrengste tot dusver baie goed. Gaan opbrengste so voortduur vir die res van 2019? Gaan Cyril nou begin karakter toon, en die regte dinge begin sê, implementeer en werklik deurdruk? Dit is moeilike vrae om te antwoord, want niemand weet wat werklik in Cyril se kop aangaan nie, ons weet wel hy is ‘n goeie strateeg.

Hoewel daar etlike scenario’s is wat van hier af vorentoe kan uitspeel, is daar een scenario wat meer waarskynlik is as die res. Die ANC gaan (weer) wen, met watter meerderheid is tans nog debatteerbaar.

Cyril behoort nou ‘n sterker mandaat te hê om die ANC, en so ook die land, in ‘n ander (beter) rigting te druk as wat die huidige afwaartse spiraal is. Cyril behoort nou daadwerklik teen korrupsie op te tree en ekonomiese beleid duidelik uit te stippel. Alhoewel die ANC se politieke beleid kontroversieel en deutrek is van sosialisme, behoort Cyril buitelandse beleggers die nodige gemoedsrus te gee om rustig te kan slaap.

Cyril behoort nou die land se belange voor dié van die ANC te stel. Koalisies gaan ook aan die orde van die dag wees en met wie saam die ANC in die bed gaan spring, kan wel ‘n gevaar inhou. ‘n Goeie ANC-wen behoort dus positief vir jou belegging te wees vir die res van 2019. Verder as 2019 moet ‘n mens maar die hand speel wat vir jou gedeel word, en daarvolgens beplan. Kom ons hou duimvas. – Horace Terry

horace@nassaux.com