Verfkwas ‘spreek lewe’ op hospitaalmure

0
404
Theodora Grivas in aksie.

Mense wonder altyd as hulle deur die kindersale in ‘n hospitaal stap waar die skilderye op die mure vandaan kom en hoe daar besluit word watter skildery op watter muur moet kom.

Petro Lombard van Bloemfontein het in samewerking met die Macah (Mother and Child Academic Hospital)-stigting besluit om die skilderye teen die mure van die provinsiale hospitale te baseer op ‘n boek wat Lombard in 2004 vir haar eerste kind geskryf het met die titel, Spreek lewe.

Een van die skilderye wat in Pelonomi geskilder is.

Volgens Theodora Grivas, wat ook help met die projek, is die idee om kinders aan te moedig om lewe te spreek. Jordaan se boek leer die leser om positiewe woorde te gebruik, veral as hulle met kinders praat. In ruil daarvoor leer die kinders hoe om positief met hulself en vriende te praat.

Grivas het aan Bloemfontein Courant vertel dat hulle tot dusver vyf sale in Pelonomi-hospitaal voltooi het. Hulle is tans besig met drie sale by die Universitas-hospitaal. “Ons grootste beloning tot dusver is die verandering in die atmosfeer onder verpleegkundiges en dokters by die Pelonomi-kinderafdeling, veral die vreugde op kinders en ouers se gesigte as hulle in die saal instap.”

Grivas sê dat hulle nou deur Macah ook minderbevoorregte skole, weeshuise, veiligheids-plekke, babahuise met verwaarloosde en agtergelate kinders wat hulp nodig het, identifiseer.

“Ons doel is om mense aan te moedig om betrokke te raak en terug te gee. Ons wil ook met hulle deel hoe wonderlik dit is om ‘n verskil te maak. God het ons daardie geskenke gegee sodat ons ‘n verskil daarmee vir Hom kan maak,” sê sy.

Theodora Grivas en Petro Lombard besig om te skilder in die hospitaal se kindersaal.

Volgens Grivas is daar altyd nuwe behoeftes wat opduik. Hulle wil graag meer bewustheid oor behoeftes in die samelewing skep. Die gemeenskap kan by hierdie projek betrokke raak deur Grivas by 083-669-8430 te skakel.

Vir meer inligting kan mense ook na die webwerf www.spreeklewe.co.za kyk.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za