Verdagtes in Harrismith-moordsaak eersdaags weer in hof

0
476
Lani Fouché

Die twee verdagtes wat verdink word van die moord van die Harrismith dominee en sy aanstaande skoonseun sal op 19 November weer in die dorp se landdroshof verskyn. Hulle sal tot dan agter tralies bly. Martin Brits en Elliot Mhlambi is Vrydag gearresteer vir die moord op Willem Brits en sy aanstaande skoonseun, Gerhard Vermeulen. Brits sal nie om borgtog aansoek doen nie, maar sy medebeskuldigde sal wel.

Volgens Vrystaatse polisiewoordvoerder Mmako Mophiring het ‘n man Brits (60), sy vrou Dorothea (59) en Vermeulen (25) Donderdagaand omstreeks 21:00 in hul sitkamer oorval. Die jong man is doodgemaak, en die dominee en sy vrou is hospitaal toe geneem met ernstige kopwonde. Mophiring sê die egpaar se 23-jarige dogter was buite die huis toe sy ‘n geskree gehoor het, en het dadelik die polisie gebel. Mhlambi is kort na die voorval naby die N3 vasgetrek toe hy met bloed aan sy klere en ‘n .22 rewolwer wat aan die egpaar behoort, gevind is. Martin Brits is Vrydagmiddag weens dié moorde gearresteer.

Dorothea is intussen in Mediclinic Bloemfontein opgeneem waar sy in ‘n kritieke toestand is. Hospitaalwoordvoerder Amanda Appelgryn het aanvanklik gesê dat haar toestand kritiek maar stabiel is, maar Dorothea se toestand het later versleg.

‘n Familiewoordvoerder AJ Scherrer het bevestig dat al vier die egpaar se kinders aangeneem is, en dat die seun wat tans agter tralies is, reeds vantevore in die tronk was weens bedrog. Courant het verneem dat Martin en Mhlambi mekaar in die tronk op Frankfort ontmoet het. Dit het ook aan die lig gekom dat die wyle Willem Brits onlangs ‘n familieplaas in die Noord-Kaap geërf het. Scherrer het bevestig dat Willem hierdie plaas van sy ouers geërf het en oorweeg het om dit te verkoop en ‘n plaas nader aan Harrismith te koop.