’n Man is in hegtenis geneem vir die moord op ’n man wat Maandag (22/7) in die parkeerterrein oorkant verskeie kuierplekke in Tweedelaan, Westdene, gevind is.
Die man (31) is een van die verdagtes wat vermoedelik die oorledene aangerand het. Sy identiteit is nog onbekend.
“Die oorledene was tydens die aanval in die geselskap van ’n ander man. Die man het dit reggekry om weg te kom,” sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Die eerste verdagte is Dinsdag (23/7) omstreeks 21:55 in hegtenis geneem en nog inhegtenisnemings word binnekort verwag.
Video’s op sosiale media wys hoe verskeie mans ’n man in Tweedelaan aanval. In die video kan gesien word hoe die slagoffer geskop en met sy kop op die teer oor die pad gesleep word. Daar is ook op hom gespring. Hy is daarna na die oop parkeerterrein gesleep.
Die oorledene het rastalokke en het ’n veelkleurige kappietop met “10” agterop, ‘n swart sweetpakbroek en lemmetjiegroen tekkies aan gehad.
‘Wenke kan gestuur word via die MySAPS-app’
Die polisie vra dat die man wat gevlug het vir David Ramasoala, ondersoekbeampte, by 082 468 1624 bel omdat hy moontlik die oorlede kan identifiseer. Enigiemand met meer inligting kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 bel. Anonieme wenke kan gestuur word via die MySAPS-app vanaf ’n slimfoon.