Verbly kinderharte deur geskenkbokse

0
98
'n Kindtjie wat deur Angel Arms gevoed word. FOTO: Verskaf
Angel Arms, Uitkoms vir Kinders, is ‘n organisasie wat deur Simone Griessel in Ehrlichpark gestig is om daagliks een voedsame ete aan elk van 120 behoeftige kinders in die gemeenskap te voorsien. Volgens Tinkie Delport, Griessel se vennoot, wil die organisasie graag op 18 Desember ook 120 geskenkbokse vir kinders vir Kersfees gee.
“Ons wil vir die kinders ‘n boks pak met iets in vir die skool, iets moois om aan te trek, ‘n speelding en ‘n klein presentjie wat nie-bederfbaar is, net as ‘n ekstra bederfie.”
Delport sê hulle verwelkom dit ook indien daar mense uit die gemeenskap is wat self ‘n boks by hul huise wil pak. Mense kan dan self besluit wat hulle in so ‘n boks wil pak.
Dit kan dan by die versamelpunt in Leerdamstraat 16, Ehrlichpark afgegee word vóór 6 Desember. Die ouderdomme van kinders wat nog geskenkbokse moet kry, wissel van 7 tot 15 jaar, en die meerderheid is meisies.
Die organisasie kan gekontak word indien mense die naam, grootte en geslag van kinders wil weet as hulle ‘n spesifieke kledingstuk deel van die geskenk wil maak. “Help ons asseblief om ander te help. Gaan slaap rustig vannaand deur te weet dat jy ‘n verskil gemaak in die lewe van een van 120 kinders, al is dit net met een ete ‘n dag,” sê sy.
Vir meer inligting oor die projek, kontak Griessel by 083 310 7886, Tinkie Delport by 074 763 0244 of Amanda Kruger by 083 289 8725.
Justine Fortuin