Venter maak professionele buiging

0
620
Gabbi Venter van Bloemfontein het Woensdagoggend by Sun City haar buiging as 'n professionele gholfspeler gemaak. Sy het 'n aanbod om in Amerika te studeer van die hand gewys om 'n beroepspeler te word. FOTO: SONKSYNREEKS

Die ster-gholfspeler van Bloemfontein, Gabbi Venter, het vandeesweek haar buiging as ‘n beroepsgholfspeler gemaak toe sy die bof tydens die SuperSport Dames Uitdaagtoernooi by die Gary Player Buiteklub by Sun City betree het.

Die 18-jarige Venter, wat verlede jaar matriek by Eunice Girls School in Bloemfontein voltooi het, is ‘n voormalige nasionale nommer een amateurspeler.

In 2022 het sy haar stem as gholfspeler dik gemaak toe sy die St Andrews Junior Dames Ope in Skotland gewen het.

Venter is ‘n beurs aangebied om in Amerika te gaan studeer terwyl sy ook haar passie vir gholf kon uitleef. Sy het egter besluit om haar drome te bewaarheid en ‘n beroepsgholfspeler te word.

Venter het aan Bloemfontein Courant gesê dat dit geensins ‘n maklike besluit was nie, maar tog voel sy dit was die regte besluit, en dat ‘n mens deesdae nog steeds agter die boeke kan inklim indien dit nodig is.

“Dit was ‘n moeilike besluit – ek het ‘n aanbod van ‘n vol studiebeurs van die Universiteit van Sentraal Florida in Amerika ontvang,” het Venter gesê.
“Ek dink soos baie mense van my ouderdom het ek nie geweet wat om te studeer nie. Ek

het ‘n bietjie meer tyd bestee met my gholfstokke in my hande as agter die boeke. Maar my passie was nog altyd om ‘n professionele gholfspeler te word. In die moderne lewe van vandag kan ‘n mens enige tyd begin studeer of aanlynkursusse doen.

“Ek wil die geleentheid benut om gholf as ‘n beroep aan te pak terwyl ek nog jonk is. Dit is ‘n lang pad en harde werk. Ek dink egter ook dat daar min mense is wat hul passie as ‘n beroep kan beoefen.

“‘n Groot oorweging in my besluit was die [ondersteunende] span wat ‘n mens moet hê om sukses te behaal: My agent Mark Bell, my afrigter Quintin Williams, die Vrystaat Sportwetenskap-instituut se Jan du Toit wat my ‘n grondslag en werksetiket gegee het wat my deur my beserings gehelp het. Die Bloemfontein Gholfklub se ondersteuning van Barry en Trevor Kitching help my ook baie. Ping is my amptelike borg en ek is baie bevoorreg om deel te word van die Ping-familie en hulle ongelooflike ondersteuning wêreldwyd.”

Venter is opgewonde om vandeesweek haar professionele buiging te maak en haar visier is op meer as net die toernooi by Sun City in die Pilanesberge.

“My eerste toernooi is die Supersport-damestoernooi in Sun City, hoewel ek dink ná die weervoorspelling moet dit dalk ‘Rainy City’ wees, wat dit nogal interessant gaan maak. Ek hoop net ons kan speel en die toernooi klaar maak . Ek het ook ‘n uitnodiging gekry om in die Dimension Data-toernooi op Fancourt te gaan speel. Ek is baie opgewonde. Ek hoop om al die toernooie in Suid-Afrika te speel en dit sluit die twee gesanksioneerde toernooie tussen die Sonskynreeks en Europese Damestoer in.”

Venter is die dogter van die voormalige veelsydige krieketspeler, Kosie Venter, wat tussen 1989 en 2004 die Vrystaat, Transvaal en Worcester in meer as 200 wedstryde verteenwoordig het. – MORGAN PIEK